REGSPRAAK

Expanding consequences for ethical mishaps in the use of artificial intelligence in legal practice

Author: MM Van Eck

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 185-197
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a11

Abstract

Die etiese gebruik van kunsmatige intelligensie in die regspraktyk bly ’n uitdaging. Dit word geïllustreer deur die groot aantal sake wat in 2025 oor etiese mislukking in die regsberoep aangemeld is in jurisdiksies soos die van die Verenigde State van Amerika, Kanada, Australië, Suid-Afrika, Engeland en Wallis. Hierdie bespreking fokus dus op die mees onlangse Engelse uitspraak, Ayinde v London Borough of Haringey en Al-Haroun v Qatar National Bank (2025 EWHC 1383 (Admin)), met die klem op hoe die gedrag van regspraktisyns in hul gebruik van kunsmatige intelligensie-instrumente die regspleging negatief kan beïnvloed. Alhoewel verskeie moontlike gevolge bestaan waar regspraktisyns hul etiese en professionele standaarde verontagsaam in die gebruik van kunsmatige intelligensieinstrumente, is die impak van sodanige gedrag op die regspleging ’n meer onlangse ontwikkeling van die howe se uitkyk op sodanige etiese en professionele standaarde van regspraktisyns. As hierdie beginsels in die Suid-Afrikaanse konteks uitgebrei word, kan die regspleging gevind word in een van drie gevalle, naamlik meineed volgens die gemenereg, minagting van die hof, en regsverydeling. Die outeur argumenteer in hierdie bespreking dat regspraktisyns nie bloot kan voortgaan om kunsmatige intelligensie vir navorsing te gebruik sonder die behoorlike nakoming van eties en professionele pligte nie, want dit sou nie net ’n negatiewe impak op hulself, hul kliënte en die howe hê nie – maar het ook ’n wyer en verreikende impak op die regspleging asook die regsberoep. In hierdie verband word geargumenteer dat die behoorlike gebruik van kunsmatige intelligensie-instrumente een van die etiese dilemmas in die hedendaagse regsomgewing geword het, en dringende en onmiddellike aandag vereis, insluitend regulasies van die Regspraktyksraad om leiding aan regspraktisyns te bied, maar ook dat die howe ’n duidelike uiteensetting van riglyne vir die voorlegging van dokumente waarvoor kunsmatige intelligensie gebruik is, moet verskaf. Dit is slegs deur so ’n gekombineerde poging, en deur opleiding, leierskap en konsekwente gevolge vir die versaking van etiese en professionele pligte, dat die huidige etiese mislukkings wat verband hou met die misbruik van kunsmatige intelligensie-instrumente in die regsberoep reggestel kan word.