
ARTIKEL
Chapter 9 institutions and legislative oversight: navigating the challenges of executive accountability
Author: S Maganoe
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Lecturer, School of Law, University of the Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 519-533
Abstract
In hierdie bydrae ondersoek die outeur die sleutelrol wat die openbare beskermer speel in die versterking van wetgewende oorsig in Suid-Afrika. Die kantoor van die openbare beskermer is opgerig ingevolge hoofstuk 9 van die grondwet met die opdrag om misdaad in die openbare sektor te ondersoek en aan te spreek. Daarmee word dit ’n belangrike meganisme vir die bevordering van aanspreeklikheid in die regering. Die klem word geplaas op die ontwikkeling van die openbare beskermer se gesag, veral die skuif na bindende aanbevelings en die implikasies daarvan vir wetgewende oorsig. Deur ’n analise van belangrike regspraak en die uitdagings wat verband hou met die instandhouding van onafhanklikheid, beklemtoon die outeur die impak wat die openbare beskermer het op die bevordering van deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die Suid-Afrikaanse regering.
Benewens die belangrike werk wat die openbare beskermer uitvoer, word gefokus op die sistemiese struikelblokke wat die implementering van die instelling se aanbevelings in die praktyk belemmer. Uitsprake soos in die Nkandla-saga en die Phala Phala-saak het die omvang van die probleem duidelik gemaak. Daar word aangetoon dat die regering dikwels nie reageer op die openbare beskermer se bevindings nie. Dit onderstreep die dringende behoefte aan ’n sterker struktuur vir implementering binne die wetgewende proses, aangesien die parlement se onwilligheid om op aanbevelings van die instelling op te tree, die werk van die openbare beskermer belemmer.
Die outeur vergelyk die Suid-Afrikaanse benadering met dié van ander lande, soos Australië, wat betroubare meganismes van wetgewende toesig het. Dit bied insigte oor hoe Suid-Afrika sy bestaande stelsels kan verbeter en kan leer van internasionale beste praktyke. Daarbenewens word beklemtoon dat daar ’n behoefte is aan meer samewerking tussen die openbare beskermer, die wetgewer en ander belanghebbendes om die doeltreffendheid van wetgewende toesig te bevorder.
Laastens, word aanbeveel dat die parlementêre komitees wat spesifiek fokus op die implementering van die openbare beskermer se aanbevelings versterk moet word om die doeltreffendheid van oorsig en aanspreeklikheid in die regering te verseker. Dit is deurslaggewend vir die volhoubare sukses van demokratiese beginsels en die regstaat in Suid-Afrika.