ARTIKEL

Boundary extension and section 5(1)(h) of the Sectional Titles Schemes Management Act: does a body corporate have unlimited discretion to refuse consent?

Authors: WT du Toit and JG Horn

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Attorney, notary public, conveyancer and former Community Schemes Ombud Service adjudicator; Senior lecturer in Property Law and Sectional Titles, University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 40-53
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a3

Abstract

Daar bestaan heelwat misvattings oor die regspersoon se rol om tot uitbreidings van deelgrense toe te stem. Menige dooiepunt is al tussen regspersone en hulle individuele lede bereik as gevolg van die regspersoon se wanopvatting dat artikel 5(1)(h) van die Deeltitelskemabestuurswet aan dit onbeperkte bevoegdhede verleen om uitbreidings by deelgrense te weier. Dié situasie word vererger deur die algehele gebrek aan kruisverwysing tussen die wetgewing van die plaaslike regerings en deeltitelbedelings.
Wanneer ’n mens egter die rolle en prosedures van die plaaslike owerheid van dié van die regspersoon skei, word dit baie duidelik dat die twee wetsbedelings ontwerp is om ná mekaar toegepas te word, sonder enige wedywering tussen die bevoegdhede wat aan onderskeidelik die plaaslike owerheid en die regspersoon verleen word. Die plaaslike owerheid tree ingevolge plaaslike regeringswetgewing op om die gebruiksregte toe te ken en die bouplanne goed te keur wat nodig is om die fisiese uitbreiding van deelgrense te fasiliteer. Daarna tree die regspersoon kragtens deeltitelwetgewing op om die uitbreiding ingevolge artikel 5(1)(h) goed te keur en sodoende die deeltitelgedeelte van die proses aan die gang te sit, wat uitloop op die registrasie van die uitbreiding van die deelgrense in die deeltitelregister in die akteregistrasiekantoor.
Volgens so ’n beskouing is die bevoegdhede wat artikel 5(1)(h) aan die regspersoon verleen nie onbelemmerd of van ’n onbeperkte omvang nie, maar pas dit in by ’n groter wets- en prosedureraamwerk. Die regspersoon is nie by magte om bouplanne ter syde te stel of gebruiksregte tot niet te maak wat die plaaslike regering reeds goedgekeur en toegeken het nie. Ten einde ’n bydrae tot regsekerheid in hierdie omstandighede te maak, sal hierdie artikel eerstens die volledige statutêre vereistes, wat in die twee aparte statutêre regimes vervat word wat die uitbreiding van ’n individuele deel se grense of vloeroppervlakte tot gevolg het, beskryf. Vervolgens sal die individuele prosesse nie bloot geïdentifiseer word nie, maar die belang van die volgorde van die prosesse van die aanvang tot die voltooiing, sal ook uitgelig word.
’n Komplekse statutêre raamwerk wat uit ’n opeenvolging van prosesse bestaan, waartydens die een op die ander bou, en nie met mekaar meeding nie, sal uit die verduideliking blyk. Indien hierdie prosesse behoorlik deur regspersone verstaan word, sal mistastings uit die weg geruim kan word.