Promoting fair individual labour dispute resolution for South African educators accused of sexual misconduct (part 1)

Promoting fair individual labour dispute resolution for South African educators accused of sexual misconduct (part 1)

Author: SA Coetzee

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor, Department of Educational Leadership and Management, College of Education, UNISA
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 29 – 42
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a2

Abstract

Die afsku van seksuele wandade met kinders verander nie die noodwendigheid dat die oppergesag van die reg erken en, uit ’n arbeidsregperspektief, billikheid in ondersoeke na bewerings nagestreef word nie. Dit is algemeen bekend dat ’n klagte van seksuele wangedrag die einde van ’n opvoeder se loopbaan kan beteken, sy of haar persoonlike lewe omverwerp, en sy of haar familie en vriende leed berokken. Die media vererger die gevolge van ’n klagte van seksuele wangedrag deurdat hulle vervolging deur die openbare mening aanvuur, en opvoeders, wat belangrike rolspelers in kinderbeskerming is, tot waarskynlike verdagtes maak. Reken hierby die verskynsel dat ’n beskuldigde op grond van bewerings skuldig bevind word, en dat klagtes teen opvoeders soms vals is. Dit is nodig dat opvoeders wat van seksuele wangedrag beskuldig word, billik behandel word. Die inwerkingtreding van Kollektiewe Ooreenkoms 3 van 2018, wat ’n ondersoek deur ’n arbiter verpligtend maak indien ’n Suid-Afrikaanse opvoeder van seksuele wandade met ’n leerder beskuldig word, maak hierdie behoefte nog dwingender. Met hierdie artikel poog die skrywer om by te dra tot die bevordering van billike geskilbeslegting vir Suid-Afrikaanse opvoeders wat van seksuele wangedrag met ’n leerder beskuldig word. Die skrywer verduidelik eerstens waarom sy van mening is dat daar ’n dwingende behoefte is aan billikheid jeens opvoeders wat van seksuele wangedrag beskuldig word. Daarna plaas sy die artikel in die toepaslike konteks deur te kyk na alternatiewe geskilbeslegtingsprosedures vir individuele arbeidsgeskille. Vervolgens ondersoek sy die prosedure vir individuele geskilbeslegting wat Suid- Afrikaanse opvoeders tot hulle beskikking het as hulle hul teen ’n klagte van seksuele wangedrag met ’n leerder moet verdedig. Laastens ontleed die skrywer algemene misverstande oor arbitrasie wat billike uitkomste kan belemmer as opvoeders hulle teen klagtes van seksuele wangedrag moet verdedig. Algemene misverstande wat billikheid tydens arbitrasie kan beïnvloed, sluit in dié oor die de novoaard van arbitrasie; die bewyslas; die bewyse wat vereis word; die belang van getuienis; die reëls oor hoorsêgetuienis; probleme met getuies; die misbruik van uitstel; verteenwoordiging; en wat ’n oorsig behels. Hierdie misverstande word merendeels geïllustreer met voorbeelde uit arbitrasieverslae oor seksuele wangedrag van die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys. Ander arbitrasiebepalings en hofbeslissings word eweneens genoem.

Party autonomy: promoting legal certainty and predictability in international commercial contracts through choice of law (justification)

Party autonomy: promoting legal certainty and predictability in international commercial contracts through choice of law (justification)

Author: P Obiri-Korang

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Research Fellow, Research Centre for Private International Law in Emerging Countries, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 43 – 58
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a3

Abstract

Die beginsel van partyoutonomie is ’n belangrike beginsel van die kontraktereg en word vandag ook beskou as die belangrikste verbindingsfaktor in die internasionale kontraktereg. In gevorderde ekonomieë word partye toegelaat om die reg te kies wat van toepassing moet wees op die regte en verpligtinge van hul internasionale kontrakte ter bevordering van grensoorskrydende handel en beleggings. Die outeur ondersoek in hierdie artikel die teoretiese basis vir die handhawing van die beginsel van partyoutonomie met betrekking tot regskeuse in internasionale kontrakte. Afgesien van die tradisionele regverdiging vir die bevordering van die beginsel, word in die artikel ook grondwetlike verankering oorweeg. In hierdie verband stel dit voor dat grondwetlike bepalings wat die vrye ontwikkeling van persoonlikheid of menswaardigheid wil beskerm, ook die reg van private partye omvat om die reg van toepassing op hulle internasionale kontrakte te kies. Dieselfde geld met betrekking tot die bepaling wat in sekere grondwette gevind word ter bevordering van aktiwiteite wat kan lei tot die vestiging van ’n gesonde ekonomie. Die artikel is daarop gemik om regsekerheid en voorspelbaarheid te bevorder deur middel van partyoutonomie in die regskeuse vir kontrakte. Sodanige erkenning sal na verwagting die nodige vertroue in private sakepersone en beleggers inboesem en gevolglik internasionale handel en beleggingsaktiwiteite binne ’n bepaalde jurisdiksie bevorder. In die lig van die bogenoemde, stel hierdie artikel voor dat, tensy daar dwingende redes bestaan om partye die reg te ontsê om die stel regsreëls te kies wat hulle verkies om hul internasionale kommersiële kontrakte te reguleer, die howe

Choice of Islamic law in the context of the wider lex mercatoria: an express choice of non-state law in contract

Choice of Islamic law in the context of the wider lex mercatoria: an express choice of non-state law in contract.

Author: F Adams

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Lecturer, Department of Commercial Law, University of Cape Town
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 59 – 74
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a4

Abstract

In hierdie artikel word die Islamitiese reg in die konteks van die wyer lex mercatoria oorweeg. Die outeur oorweeg welke eienskappe ’n toepaslike reg moet bevat sodat dit as ’n geldige keuse van ’n regsbestel wat nie behoort tot ’n bepaalde staat nie kan dien. Die artikel begin met die verkenning van die internasionale sakegemeenskap konsep. Die internasionale sakegemeenskap het normatiewe funksies, ten minste in sover hierdie norme binne daardie gemeenskap toegepas word. In hierdie artikel ondersoek die outeur wie almal deel uitmaak van daardie gemeenskap en in welke gevalle die norme, wat deur die gemeenskap geskep word, beskou moet word as die toepaslike reg van die kontrak. Hierdie bepaling word gemaak deur aanvanklik te steun op die kriteria soos uiteengesit in artikel 3 van die Haagse beginsels van keuse van regstelsel in internasionale handelskontrakte. Die beginsels in artikel 3 word egter nie woordeliks aanvaar nie, maar uitgebrei en aangepas om aan ’n gemeenskapsgerigte siening van die reg van toepassing op kontrakte te voldoen. Hierdie aangepaste beginsels word deur die outeur sekerheidsmaatstawwe genoem. Die aangepaste kriteria word dan op die Islamitiese reg toegepas om te bepaal of dit geskik is as die toepaslike reg van die kontrak. Twee soorte Islamitiese reg word oorweeg. Na die eerste verwys die outeur as die tradisionele Islamitiese reg, wat hy onvanpas vind om as die toepaslike reg van ’n kontrak te geld op grond van die onsekerheid wat deur die verskillende Islamitiese regskole geskep word en wat nie bevorderlik vir regsekerheid is nie. Die tweede kan nie as sodanig as Islamitiese reg beskou word nie, maar is ’n stel standaarde wat op Islamitiese reg (AAOFII-standaarde) gebaseer word. Hierdie standaarde funksioneer op dieselfde wyse as modelreëls vir Islamitiese kommersiële kontrakte. Die outeur bevind dat hierdie standaarde aan die vereistes van die sekerheidsmaatstawwe voldoen wat in hierdie artikel voorgestel word, en dit word as geskik beskou as die toepaslike reg van die kontrak. Die kriteria wat in hierdie artikel ontwikkel word, word slegs op Islamitiese reg toegepas, maar, as gevolg van die nut wat deur hierdie kriteria verskaf word, kan dit gebruik word om ’n beoordeling te maak van enige geldige keuse van ’n regsbestel wat nie behoort tot ’n bepaalde staat nie. Vir huidige doeleindes word die gevolgtrekking bereik dat slegs sekere vorme van religieuse reg geskik is as die toepaslike reg van ’n kommersiële kontrak.

The European Account Preservation Order (EAPO): a solution for cross-border seizure of bank accounts in the European Union

The European Account Preservation Order (EAPO): a solution for cross-border seizure of bank accounts in the European Union

Author: K Broeckx & B De Groote

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Judge of the court of appeal Ghent and Professor, Institute for Procedural Law, Faculty of Law, Ghent University, Belgium; Professor, Faculty of Economics, Ghent University, Belgium
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 75 – 105
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a5

Abstract

Op 18 Januarie 2017 het in alle lidstate van die Europese Unie, met uitsondering van die Verenigde Koninkryk en Denemarke, die Europese Bankbeslagverordening in werking getree. Die verordening bied skuldeisers wat beoog om oor te gaan tot invordering van hul skuldvordering in burgerlike en handelsake in situasies met grensoorskrydende karakter, die moontlikheid om ’n Europese bevel tot behoudende of bewarende beslag aan te vra met betrekking tot die bankrekeninge van hul skuldenaars (die sogenaamde European Account Preservation Order ofte wel EAPO). Die EAPO stel ’n skuldeiser in staat om die krediet in enige bankrekening van sy skuldenaar in enige ander Europese lidstaat te blokkeer. Die Europese Bankbeslagverordening verteenwoordig ’n belangrike afwyking van die territorialiteitsbeginsel wat normaalweg toepassing vind. Die beginsel is voorheen as ’n fundamentele en dus kenmerkende beginsel van die eksekusiereg beskou en kom daarop neer dat slegs die nasionale howe bevoeg is om ’n beslagleggingsmaatreël toe te staan ten aansien van krediete wat binne die nasionale grense voorkom en om kennis te neem van en uitspraak te gee oor litigasie wat verband hou met sodanige beslagleggingsbevele binne hul grensgebied. Die beginsel berus op die premis dat tenuitvoerlegging ten nouste verbonde is met die uitoefening van staatsgesag. Die behandeling van ’n aansoek om ’n EAPO verloop eensydig en dus sonder dat die skuldenaar van die aansoek in kennis gestel word. Die eensydige karakter het ten doel om die verrassingseffek te behou en daardeur die kanse vir ’n geslaagde bankbeslag te verbeter. Daar word gebruik gemaak van dieselfde standaardformuliere in alle lidstate. ’n Skuldeiser wat so ’n EAPO wil bekom, moet aantoon dat daar ’n dringende behoefte daartoe bestaan ten einde ’n bewaarhoudingsbevel te bekom en dat by gebrek daaraan ’n reële risiko bestaan dat die latere inning van die skuldvordering onmoontlik gemaak sal word of minstens wesenlik bemoeilik sal word. Die Europese Bankbeslagverordening voer ook die moontlikheid in vir skuldeisers wat beskik oor ’n gepaste titel om ’n versoek tot inligting met betrekking tot die tersake bankrekening te formuleer voordat daarop beslag gelê word. Die verordening voorsien egter ook die verpligting, ofte wel die moontlikheid dat skuldeisers sekerheid moet stel ten einde enige belanghebbendes teen benadeling te vrywaar indien die verordening uitgevoer word. Die Europese Bankbeslagverordening is van belang vir skuldeisers met ’n domisilie, woonplek of setel in die Europese Unie wat vanuit hul lidstaat beslag wil lê op die bankrekeninge van hul skuldenare ongeag die feit dat laasgenoemde se woonplek of bedryfsetel in ’n ander Europese lidstaat is. 

Proving a causal link between pregnancy and dismissal: an analysis of the disclosure of pregnancy and the protection of pregnant employees in the South African workplace

Proving a causal link between pregnancy and dismissal: an analysis of the disclosure of pregnancy and the protection of pregnant employees in the South African workplace

Author: A Behari

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Research Fellow, School of Law, University of KwaZulu-Natal
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 106 – 122
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a6

Abstract

Die beskerming van swanger werknemers in die werkplek is noodsaaklik om vroue aan te moedig om deel te neem aan die arbeidsmag. Indiensnemingsbeskerming met swangerskap verseker dat vroue nie onregverdig ontslaan word, of teen gediskrimineer word as gevolg van hulle biologiese vermoë om kinders te baar nie. Die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 en die Wet op Billike Indiensneming 55 van 1998 bied beskerming aan swanger werknemers deur die ontslag en diskriminasie van werknemers op grond van swangerskap te verbied. Waar daar ’n bewering van ontslag en/of diskriminasie op grond van swangerskap bestaan, moet die werknemer bewys dat haar swangerskap die rede vir die ontslag was. Gevolglik vereis die bewyslas ’n oorsaaklike verband tussen die swangerskap en die ontslag. Sodra die werknemer bewys dat sy weens swangerskap ontslaan is, skuif die onus na die werkgewer om te bewys dat die ontslag billik was. Dit vereis bewys dat die ontslagbesluit nie weens die swangerskap was nie, maar om ’n ander rede. Regspraak dui daarop dat die oorsaaklike verband tussen swangerskap en ontslag in die meeste gevalle geskep word deur die openbaarmaking van die swangerskap by die werkplek. Dit maak dit vir die werkgewer moeiliker om te bewys dat die werknemer om ander redes as haar swangerskap ontslaan is. In die Suid-Afrikaanse reg is daar egter geen wetlike plig op ’n werknemer om haar swangerskap aan haar werkgewer bekend te maak nie. ’n Regsvergelykende bespreking van die Duitse wetgewing dui aan dat wetgewing aldaar spesiale beskerming bied aan swanger werknemers teen ontslag vir die duur van ’n werknemer se swangerskap tot en met vier maande na die geboorte van haar baba. Daar is geen plig op ’n werknemer om haar swangerskap bekend te maak nie, aangesien sy nie tydens die beskermingstydperk ontslaan kan word nie. Hierdie vergelykende perspektief weerspieël die waarde wat deur die Duitse reg op moederskap geplaas word. Dit waarborg die beskerming van vroulike werknemers teen ekonomiese kwesbaarheid tydens swangerskap weens die swangerskap. In die Suid-Afrikaanse reg is die bewys van onbillike ontslag op grond van ’n swangerskap meer ingewikkeld. Regspraak dui daarop dat die beskerming teen ontslag versterk word deur ’n mate van kennis van die swangerskap deur die werkgewer. Hierdie benadering hou nie rekening met die werklike ervarings van swanger vroue wat ontslaan is nie, hetsy sy op mediese bevestiging gewag het voordat sy haar swangerskap bekend maak, of moontlik swangerskapverwante siektes gehad het wat haar werksprestasie negatief beïnvloed het, of moontlik nie kon bewys het dat die werkgewer kennis van die swangerskap ontvang het uit ’n ander bron nie. Deur middel van ’n ontleding van relevante Suid-Afrikaanse wetgewing en regspraak en ’n vergelykende ontleding van die Duitse verbod op ontslag van swanger werknemers, word hierdie beskerming van swanger werknemers teen ontslag en diskriminasie ondersoek, spesifiek aangesien dit verband hou met die werklikheid van die bekendmaking van swangerskap in die werkplek.

Aantekeninge: Insurance policies, the Matrimonial Property Act and alienation of assets of the joint estate without value to the detriment of the non-consenting spouse

Aantekeninge: Insurance policies, the Matrimonial Property Act and alienation of assets of the joint estate without value to the detriment of the non-consenting spouse

Authors: MFB Reinecke & JC Sonnekus

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 123 – 135
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a7

Abstract

Die wetgewer het met die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984 nie alleen die minderwaardige status van vroue getroud in gemeenskap van goed vervang met identies dieselfde status as wat haar man geniet en dus sy gemeenregtelike maritale mag geskrap nie, maar het ook met die kwalifikasies vervat in artikel 15 uitdruklik perke gestel aan die potensiële risiko’s waaraan gades só getroud bloot sou staan indien een van die gades sonder die toestemming van die ander bepaalde regshandelinge kon verrig wat negatief kan inslaan op die gemeenskaplike boedel en dus beide gades se belange. Getrou aan die gemenereg kan behoudens die uitsonderinge van ’n uitdruklike bepaling deur ’n testateur, skenker of ’n tersake hofbevel geen persoon getroud in gemeenskap van goed naas die gemeenskaplike boedel ook nog beskik oor ’n afsonderlike privé boedel nie. Alle bates van die gades vorm deel van die gemeenskaplike boedel en is dus onderworpe aan die voorskrifte vervat in artikel 15 van die wet. Aangesien bates per definisie alle vermoënsregte van die tersake reghebbendes insluit, vorm ook die vorderingsregte uit hoofde van ’n versekeringsooreenkoms deel van die bates van die reghebbende. Indien ’n gade sonder die toestemming van sy of haar wederhelf die vorderingsreg teen die lewensversekeraar aan ’n derde oordra deur sodanige benoeming van die derdes as begunstigdes kom dit neer op ’n vervreemding van bates uit die gemeenskaplike boedel sonder teenwaarde. Die wetgewer het in artikel 15(3)(c) onomwonde en ondubbelsinnig verorden dat sodanige vermeende regshandeling van nul en gener waarde is. Die “vervreemder” het nie die nodige kompetensie of handelingsbevoegdheid om die handeling te verrig nie en die reg kan geen gevolge aan sodanige nietige handeling heg nie. Enige vermoënsverskuiwing wat op sodanige nietigheid gebaseer is, is sine causa en kan deur die ongegrond verarmde party kondikeer word mits aan die vereistes van die condictio indebiti voldoen word. In die Naidoo-saak het die uitspraak van die hoogste hof van appèl in weerwil van die uitdruklike statutêre bepalings nie die belange van die weduwee wat deur die onregmatige optrede van haar oorlede man wesenlik benadeel is, beskerm nie. Sodanige regsverdraaiing boesem geen vertroue in nie.

Aantekeninge: Third-party appointments – may the tax collector please comply?

Aantekeninge: Third-party appointments – may the tax collector please comply?

Author: T Legwaila

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 136 – 144
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a8

Abstract

Ten einde die effektiewe invordering van belasting te bewerkstelling, stel die Wet op Belastingadministrasie 28 van 2011 die kommissaris van die Suid-Afrikaanse inkomstediens in staat om derdepartyaanstellings te maak. So ’n aanstelling bring mee dat ’n persoon geld wat die persoon hou namens die belastingbetaler, skuld of sal hou of sal skuld, moet oorbetaal aan die inkomstediens om die belastingbetaler se uitstaande belastingskuld te delg. In 2015 is die wet gewysig met die insluiting van nuwe vereistes waaraan voldoen moet word alvorens die belastinggaarder so ’n derdepartyaanstelling kan maak. Die inkomstediens mag slegs so ’n aanstelling maak as daar ’n uitstaande belastingskuld is en die inkomstediens ’n finale aanmaning aan die belastingbetaler gerig het ten minste tien besigheidsdae voor die derdepartyaanstelling. Hierdie aanmaningskrywe moet die verhalingstappe wat die inkomstediens tot sy beskikking het indien die belastingbetaler nie betaal nie asook die skuldverligtingsmeganismes kragtens die wet uiteensit. Indien die inkomstediens nie aan hierdie vereistes voldoen nie is die derdepartyaanstelling nietig. In ten minste twee gevalle in 2020 het die inkomstediens derdepartyaanstellings gedoen sonder dat daar voldoen is aan hierdie addisionele vereistes. In die twee sake, wat in die Gautengse hooggeregshof beslis is, het die derdepartye op grond van die derdepartyaanstellings opgetree, wat duidelik tot nadeel van die belastingbetalers was. Dit is kommerwekkend dat die derdepartyaanstelling in die tweede saak gemaak is nadat die eerste saak reeds beslis is. Ten spyte daarvan dat die gebreke in die tweede saak ooreenstem met die gebreke in die eerste saak, het die inkomstediens gemeen dat dit steeds die tweede saak kon wen. In beide sake het die inkomstediens se verteenwoordigers nie die waarheid vermeld oor of die lewering van die finale aanmaningskrywes na die posadresse van die belastingbetalers gestuur is nie. Verder kon die deponente, wat namens die inkomstediens eedsverklarings afgelê het, nie verklaar dat hul persoonlike kennis gehad het of die skrywes gelewer is by wyse van e-filing nie. Daar was ook geen eedsverklarings aangeheg by die beantwoordende eedsverklaring van enige amptenaar van die inkomstediens wat persoonlike kennis gedra het van lewering by wyse van e-filing nie. Die hof het in beide sake kostebevele teen die inkomstediens gemaak. Die outeur meen dat die hof die contra fiscumreël verkeerd toegepas het aangesien daar geen dubbelsinnigheid was in die uitlê van die relevante statutêre bepalings nie.

Regspraak: Die konstitusionele hof verwyder die reg van werknemers om nie onbillik ontslaan te word nie uit die beskermingsveld van die handves van regte – grondwetlike gesigspunte

Regspraak: Die konstitusionele hof verwyder die reg van werknemers om nie onbillik ontslaan te word nie uit die beskermingsveld van die handves van regte – grondwetlike gesigspunte

Author: IM Rautenbach

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Universiteit van Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 145 – 159
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a9

Abstract

Section 39(2) of the Constitution of the Republic of South Africa, 1996, recognises the existence of rights not protected in the bill of rights. The South African bill of rights protects human conduct and interests extensively. Before the AMCU judgment was delivered, no clear example of a right not protected by the bill of rights had been identified in case law and legal literature. In the AMCU case the constitutional court deviated from previous judgments by holding that the interests of employees not to be dismissed unfairly is not covered by the right to fair labour practices in section 23(1) of the constitution. The court based its finding on textual and contextual interpretive considerations. Its interpretation of section 23(1) was not sound. A narrow, grammatical approach, namely that the text of section 23(1) does not refer expressly to such a right, cannot be followed when the meaning of open-ended constitutional phrases like “fair” labour practices is determined. And an extra-textual reference to the protection of the right in ordinary law is not relevant when the meaning of a constitutional provision is determined. Aspects of human dignity and physical and psychological integrity cannot be removed from the protective ambit of the bill of rights because they are protected by ordinary rules of the law of delict and criminal law. Viewed contextually with the other provisions of the bill of rights, the constitutional right to fair labour practices, like the right to access to housing, food, health and social services, children’s rights and criminal and civil procedural rights, protects other constitutional rights in a particular field, in this case in the field of labour relations. Apart from the fact that it can hardly be contested that every employee has a vital interest not to be dismissed unfairly, many other rights, for example, to human dignity, physical and psychological integrity, economic activity, association and audi alteram partem, may be limited factually by dismissals and dismissal procedures. The scheme and ethos of the South African bill of rights is that these special rights that overlap with the general rights are guaranteed separately. Within this context one of the ironies of the artificial exclusion of a right from the protective ambit of the special right is that its violation may, like in systems without these special rights, be challenged on the basis of the unjustifiable limitation of the general rights. A rule of thumb that the protective ambit of constitutional rights should be interpreted restrictively because the application of the weak rational relationship test as part of the rule of law serves the separation of power principle better than the application of the stricter reasonable test for the limitation of constitutional rights (in the separate concurring judgment of Theron J) is questionable. Whereas legality as part of the rule of law is always complied with when the weak rationality relationship exists, reasonableness in terms of section 36 does not always amount to the application of a stricter test. The existence of a very compelling purpose (to combat a pandemic that threatens life and limb) or a factually slight limitation of a right (to stop at a stop sign) could be the basis of a conclusion that the limitation is justifiable when the weak rational relationship test is complied with. The court’s consideration of proportionality under the umbrella of the application of the weak rational relationship test causes more uncertainty in the present somewhat unruly field of the application of rationality tests.

Regspraak: Can a conduct rule banning short-term letting for less than six months in a residential sectional title scheme be declared invalid because it constitutes commercial use of the unit, and then be enforced by a final interdict and declared constitutional?

Regspraak: Can a conduct rule banning short-term letting for less than six months in a residential sectional title scheme be declared invalid because it constitutes commercial use of the unit, and then be enforced by a final interdict and declared constitutional?

Author: CG Van der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 160 – 171
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a10

Abstract

Dit is presies wat gebeur in Body Corporate, Paddock Sectional Title Scheme v Nicholl 2020 2 SA 472 (GJ). Die regspersoon doen aansoek by die hof om die respondent te verbied om haar woonstel in stryd met ’n gedragsreël vir ’n kort termyn te verhuur via Airbnb. Die respondent ontken dat sy haar woonstel vir ’n besigheidsdoel gebruik en veg in ’n teenaansoek die grondwetlikheid van die gedragsreël aan omrede dit haar inhoudsbevoegdhede as eienaar aantas. Die hof bevind dat aangesien die woonstel as ’n belegging gekoop is en die oogmerk met die verhuring die afbetaling van die verbandskuld uit die huurinkomste was, die verhuring neerkom op ’n besigheidsgebruik van die woonstel. En aangesien korttermynverhuring via Airbnb in die algemeen ’n veiligheids- en oorlasrisiko skep, staan die hof ’n finale verbiedende interdik toe. Die hof beslis ten slotte dat die verbod grondwetlik is omdat dit slegs ’n tydsbeperking plaas op die respondent se inhoudsbevoegdhede om as eienaar haar woonstel te verhuur. Myns insiens gaan die verhuring van ’n woonstel vir ’n kort termyn nie oor ’n besigheidsgebruik daarvan nie, omdat die woonstel steeds vir verblyf van die korttermynhuurder benut word. Verder hang die toestaan van ’n finale interdik op grond van ’n oorlas af van daadwerklike oorlasstigtende handelinge van die eienaar en nie bloot oor die potensiaal daarvoor nie. Ten slotte sal die grondwetlikheid van ’n verbod op kort verhuring van eiendom in die lig van die erkenning van korttermynverhuring in die voorgestelde wysiging van die Wet op Toerisme in die toekoms ’n noukeurige afweging van die belange van die betrokke individu en die gemeenskaplike belange van die deeleiendomsgemeenskap én van die algemene publiek as potensiële huurders verg.

Regspraak: Liability of police for investigation of rape

Regspraak: Liability of police for investigation of rape

Author: J Neethling

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 171 – 184
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a11

Abstract

In hierdie sake het die eiseres K, wat ontvoer en verkrag is, ’n eis vir vergoeding teen die polisie ingestel op grond van hul beweerde nalatigheid ten opsigte van sowel die ondersoek na haar aangemelde verdwyning die middag van haar ontvoering en die nag toe sy verkrag is as die ondersoek daarna toe dit bevestig is dat sy herhaaldelik verkrag is. Haar eis slaag in die verhoorhof maar word in appèl verwerp. Albei howe bevestig dat ten einde te slaag, K al vyf elemente van ’n delik moet bewys, te wete die handeling, onregmatigheid, nalatigheid, kousaliteit en nadeel. Vir doeleindes van die beslissings word op onregmatigheid, nalatigheid en kousaliteit gefokus en albei word ingelei deur eers vas te stel of die polisie nalatig opgetree het omdat dit die gerieflikste was om dit so te doen. Hier word die klassieke redelike voorsienbaar- en voorkombaarheidstoets toegepas deur middel van die redelike deskundige, die redelike polisieman in die hof benede wat bevind dat die polisie grof nalatig was, en die redelike staatsorgaan in die hoogste hof van appèl wat beslis dat die polisie redelik opgetree het. Wat onregmatigheid betref, pas die verhoorhof die tradisionele boni mores-toets toe om vas te stel of daar ’n regsplig op die polisie was om K se nadeel te voorkom het, terwyl die hoogste hof van appèl die omstrede nuwe benadering volg deur te vra na die redelikheid daarvan om die polisie aanspreeklik te stel. Anders as die hooggeregshof bevind die hoogste hof van appèl dat onregmatigheid afwesig is omrede die toestaan van die eis tot ’n veelvuldigheid van aksies kon lei wat beleidsgewys onaanvaarbaar sou wees weens die swaar las wat dit op die polisie kon plaas. Met betrekking tot oorsaaklikheid pas beide howe die conditio sine qua non-toets vir feitelike kousaliteit en die soepel toets vir juridiese kousaliteit toe en kom net soos by nalatigheid en onregmatigheid tot teenoorgestelde gevolgtrekkings. Die beslissing van die hoogste hof van appèl verdien instemming. Dit maak egter nie sin dat hierdie hof met sy beslissing voortgegaan het nadat bevind is dat nalatigheid afwesig was en dat deliktuele aanspreeklikheid dus ontbreek het nie.