“Beneficial owner” and “beneficial ownership” in South African trust law: troublesome aspects of the General Laws (Anti-Money Laundering and Combating Terrorism Financing) Amendment Act 22 of 2022

Authors: Francois Du Toit, Bradley Smith and Louis Janse Van Vuren

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Professor of Private Law, University of Cape Town; Senior Lecturer: Research, The IIE’s Varsity College, South Africa; Extraordinary Professor of Private Law, University of the Free State; Chief Executive Officer, Fiduciary Institute of Southern Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 387 – 405
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a1

Abstract

Die Wysigingswet op Algemene Wette (Teengeldwassery en Bekamping van Terrorismefinansiering) 22 van 2022 is op 29 Desember 2022 bekragtig. Dié wet wysig, met 1 April 2023 as die inwerkingtredingsdatum van al hierdie wysigings, die Wet op die Beheer oor Trustgoed 57 van 1988 in verskeie opsigte. In hierdie bydrae neem ons twee wysigings onder die loep, naamlik die invoeging van ’n definisie van “uiteindelik geregtigde” (“beneficial owner”) in artikel 1 van Wet 57 van 1988 asook die vaslegging van die idee van “uiteindelike geregtigheid” (“beneficial ownership”) in artikel 11A van daardie wet.  Ons voer aan dat beide toevoegings onvanpas is in die Suid-Afrikaanse trustreg aangesien dit nie strook met meerdere van die grondbeginsels van die Suid-Afrikaanse trustreg nie. Ons wys in die besonder daarop dat die wetgewer se gebruik van “uiteindelik geregtigde” en “uiteindelike geregtigheid”: (i) onder inhoudelike onsekerheid gebuk gaan; (ii) nie strook met sommige van Wet 57 van 1988 se bepalings nie, by uitstek die definisie van “trust” in artikel 1 en ’n trustee se sorgplig ingevolge artikel 9; (iii) oënskynlik berus op ’n mistasting oor die regsaard van ’n trust asook die aanvaarde regsbeginsels rakende die misbruik van die trustvorm en skyntrusts en (iv) die gevaar inhou van die voortydige verkryging van regte deur trustbegunstigdes. Ons argumenteer derhalwe dat die wetgewer se gebruik van “uiteindelik geregtigde” en “uiteindelike geregtigheid” in die wysigingswet en Wet 57 van 1988 teoretiese en praktiese onsekerhede skep wat nie alleen die begripsmatige onderbou en samehang van die Suid-Afrikaanse trustreg skaad nie, maar ook dermate uit pas is met sommige van die bestaande wet se bepalings dat hierdie wysigings bykans onmoontlike verpligtinge ten opsigte van die insameling, vaslegging en verslagdoening van inligting (ter nakoming van die – weliswaar prysenswaardige – oogmerke van die wysigingswet) op trustees plaas. Ten einde hierdie kwessies aan te spreek, doen ons ’n alternatiewe – en onses insiens werkbare – wetsbepaling aan die hand wat, alhoewel dit grootliks op die bestaande bewoording van die tersake bepalings van die wysigingswet gegrond is, wegdoen met “uiteindelik geregtigde” en “uiteindelike geregtigheid” terwyl dit steeds uitvoering aan die oogmerke van die wysigingswet gee. Die voorgestelde wetsbepaling spreek in die besonder die problematiek aan met betrekking tot die besit van of doelmatige beheer oor trustbates – wat sentraal tot die idee van ’n “uiteindelik geregtigde” staan. Dit beperk die voorskrifte oor die besit van of doelmatige beheer oor trustbates tot gevalle waarin trustees sinvolle uitvoering aan die tersake wetsbepaling kan gee.