The use of geospatial surveillance data for public-health emergency and disaster management in South Africa: a review with legal recommendations

The use of geospatial surveillance data for public-health emergency and disaster management in
South Africa: a review with legal recommendations

Author: M Botes

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Researcher, APACHE Health Law and Bioethics, University of KwaZulu-Natal
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 474-503
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a4

Abstract

Om behoorlik ingeligte en oorwoë pandemie-reaksie en bestuursplanne in werking te stel, wend state, insluitend Suid-Afrika, hul tot georuimtelike inligtingstelsels en ander georuimtelike waarnemingsmetodes. Die data wat deur hierdie tegnologie versamel word, verskaf belangrike insigte in die dinamiese aard van die Covid-19-pandemie, die siekte se verspreidingspatrone en kon selfs uitbraakpatrone voorspel. Deur die patrone en aard van die ontwikkelende pandemie deur middel van georuimtelike waarneming en inligtingstelsels te verstaan, kon regerings betyds die nodige voorbereidings tref ten einde te verseker dat voldoende mediese toerusting aangekoop en beskikbaar gestel word, menslike hulpbronne dienooreenkomstig bestuur word en kwarantyn- en grendelmaatreëls wat lewens kan red in plek gestel word ten einde die verspreiding van hierdie aansteeklike siekte te beperk. Alhoewel georuimtelike waarneming en inligtingstelsels ’n belangrike rol speel deur data vanuit verskillende bronne te versamel, die visualisering van pandemie-inligting moontlik te maak, positiewe gevalle op te spoor en streekuitbrake te voorspel, is die regulering van hierdie tegnologieë gefragmenteerd, soms teenstrydig met nasionale wetgewing, en stem baie min lande se nasionale data en privaatheidswetgewing ooreen met internasionale reguleringsinstrumente. Gedagtig daaraan dat georuimtelike waarneming en inligtingstelsels slegs hulle volle potensiaal sal bereik wanneer die inligting wat deur hierdie tegnologieë versamel word, saamgevoeg en as groot data in geheel geanaliseer en toegepas word, is dit belangrik dat lande se nasionale wetgewing en beleide grotendeels ooreenstem met internasionale instrumente sodat data veilig gedeel kan word. Hierdie harmonisering van nasionale en internasionale reguleringsraamwerke moet steeds geskied met behoorlike beskerming van individuele inligtingsprivaatheid op nasionale vlak. Die Covid-19-pandemie was ’n wekroep tot aksie vir die etiese gebruik van georuimtelike tegnologieë. In hierdie artikel word die verskillende praktiese toepassings van bestaande geografiese waarnemingstegnologieë tydens die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika ondersoek, en hoe hierdie ruimte-tegnologieë en die data wat daaruit voortspruit, op internasionale en nasionale vlak gereguleer word. Gedagtig aan die waarde wat hierdie tegnologieë kan bydra tot die voorspelling, en bestuur van natuurrampe en gesondheidsrampe, word die artikel afgesluit met ’n paar aanbevelings vir toekomstige regulering om die gebruik van hierdie tegnologieë te optimaliseer deur internasionale harmonisering, samewerking en die verbetering van nasionale vaardighede.

A conceptual view of the act of testation to elucidate a testator’s intention in the South African law of succession: a proposed “act-based model” as opposed to the traditional “requirements model” (part 1)

A conceptual view of the act of testation to elucidate a testator’s intention in the South African law of
succession: a proposed “act-based model” as opposed to the traditional “requirements model” (part 1)

Author: J Faber

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Lecturer, Faculty of Law, University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 504-520
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a5

Abstract

Die Suid-Afrikaanse erfreg, as deel van die privaatreg, spesifiek die vermoënsreg, opereer aan die hand van die subjektiewe regsleerbenadering en veral die inbegrepe beskikkingsbevoegdheid – as een van die inhoudsbevoegdhede – waaroor ’n regsubjek as die reghebbende van subjektiewe regte beskik. Die beskikkingsbevoegdheid word uitgeoefen aan die hand van ’n beskikkingshandeling – as regshandeling – wat moontlik is weens die uitoefening van die regsbevoegdhede waaroor regsubjekte beskik, vernaamlik die regsbevoegdheid en handelingsbevoegdheid. Op die gebied van die erfreg, deur enersyds die beskikkingshandeling te onderskei van ander handelinge en aangeleenthede wat inhoudelik in die testament mag voorkom (byvoorbeeld die herroepingshandeling) en andersyds te onderskei van ander handelinge in die testeerproses (byvoorbeeld die verlydingshandelinge ten einde aan die formaliteitsvereistes te voldoen) sal die begripsverwarring wat in die Suid-Afrikaanse erfreg heers, veral wat die testateur se bedoeling betref en gevolglik ook die begrip van ’n testament as sodanig, ten beste aangespreek word. Die testateur se bedoeling kan slegs teoreties korrek verklaar word aan die hand van ’n voorgestelde handelingsmodel ten opsigte van die deurlopende proses van testering ten einde te toon dat testateursbedoeling ’n saamgestelde, meersydige konsep is, wat meerdere bedoelingsvorme of bedoelingsfasette omvat. Die beskikkingsbedoeling byvoorbeeld, moet ten eerste gevorm word alvorens dit tot uiting kan kom in ’n wilsverklaring, as die tersake beskikkingshandeling. Die handelingsmodelbeskouing staan in teenstelling tot die tradisionele beskouing dat ’n testament die gevolg is van die eenmalige aanwesigheid van ’n aantal gestelde vereistes (die sogenaamde “vereistesmodel”). Ingevolge die handelingsmodel-beskouing is ’n testament die gevolg van ’n proses van testering wat die verrigting van spesifieke handelinge met bepaalde gepaardgaande bedoelingsvorme behels, wat deur verskeie partye verrig word ten einde ’n testament daar te stel. Die plek en rol van, sowel as die wisselwerking tussen, die onderskeie “vereistes” kan slegs teoreties korrek gekontekstualiseer word ooreenkomstig hierdie beskouing. Dit staan ’n bevoegde testateur vry om na keuse oor sy of haar bates te beskik aan die hand van die beginsel van testeervryheid. Die beskikking oor bates geskied by wyse van ’n testeerhandeling, as die tersake regshandeling in die erfreg. Ten einde te kwalifiseer as ’n testeerhandeling, word ’n volledige beskikkingshandeling vereis, in die sin dat al die elemente vir ’n testamentêre beskikking teenwoordig moet wees; sowel die nodige testeerbedoeling (animus testandi) as die bedoeling dat daar by die dood regtens aan die beskikking gevolg gegee moet word. In die testate erfreg word ’n skriftelike wilsuiting, soos beliggaam in ’n geldige testament, vereis. Die testeerhandeling – as die vergestalting van die beskikkingsbedoeling en testeerbedoeling (animus testandi) – laat die dokument wat dit beliggaam, as testament kwalifiseer. Hierdie prosesmatige beskouing – met die klem op die testeerhandeling eerder as op voldoening aan ’n reeks vereistes – bied ’n behoorlike verklaring van wat ’n testament is, klaar die huidige begripsverwarring met betrekking tot testateursbedoeling op en lê die grondslag vir die bekendstelling van ’n bedoelingsleerstuk in die Suid-Afrikaanse erfreg.

Administrative law and voluntary religious associations in South Africa: some reflections

Administrative law and voluntary religious associations in South Africa: some reflections

Author: R Henrico

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor in the Department of Public Law and Jurisprudence, University of the Western Cape
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 521-537
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a6

Abstract

Daar is in Suid-Afrika verskeie vrywillige godsdiensorganisasies. Hulle leerstellings het betrekking op geloofsgebaseerde aangeleenthede. Sodanige organisasies vervul ook funksies ten aansien van die bestuur van die kerk, die hiërargiese samestelling daarvan, administratiewe aangeleenthede, die gedragskode van lidmate en leraars en dissiplinêre optrede ingevolge huishoudelike tribunale. Die verhouding tussen die lidmate en die organisasie waartoe hulle hul vrywillig verbind het, is nie statutêr van aard nie. Die verhouding is gebaseer op die interne grondwet van die godsdienstige organisasie wat beteken dat die bevoegdhede wat byvoorbeeld uitgeoefen word deur dissiplinêre tribunale, gebaseer is op die instemming van die betrokkenes. Kragtens die bevoegdhede wat so verleen is, bestaan ’n ongelyke verhouding tussen die leierskap teenoor hulle lidmate en medeleraars. Dit bly egter ’n privaatregtelike verhouding en word geen publiekregtelike verhouding weens die magsverhouding nie. ’n Vergelyking kan gemaak word met administratiefregtelike verhoudings waar eweneens sprake van magsverhoudings is. Administratiewe verhoudings is openbare regsverhoudings, maar tog ook een van ongelykheid. Die staatsreg plaas die individu in ’n ondergeskikte verhouding teenoor die owerhede. ’n Lidmaat wat verontreg of gegrief is deur ’n besluit van die godsdienstige organisasie waarvan hy/ sy ’n lid is, kan sodanige besluit aanveg deur middel van die hersieningsprosedure waarvoor in die grondwet van die organisasie voorsiening gemaak word, maar kan ook bloot besluit om te bedank en uit die organisasie te tree. Dié bevoegdheid geniet ’n burger wat verontreg is deur ’n administratiewe vergryp van die owerheid, behoudens dan emigrasie, nie. Alhoewel die bevoegdhede wat binne ’n godsdienstige organisasie uitgeoefen word, gebaseer is op onderlinge instemming – en gereguleer behoort te word deur die interne grondwet van die vereniging – mag dit die moeite loon om kennis te neem van die beginsels van die administratiefreg in die lig van die omvang van gevestigde administratiewe regspleging. Die outeur ondersoek in hierdie artikel in die eerste plek private godsdienstige organisasies binne die bestek van die grondwetlike waarborge van indiwiduele en geassosieerde vryheid van godsdiens. Tweedens word gelet op die feit dat, nieteenstaande die private aard van die verhouding tussen lidmate en die vrywillige godsdienstige organisasie, ’n geregtelike hersiening van godsdienstige verenigings gebaseer op die gemenereg wel toepaslik mag wees. In ’n demokratiese bedeling leen nóg die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, nóg artikel 33 van die grondwet dit tot geregtelike hersiening van administratiewe optrede. Met inagneming van die horisontale toepassing van grondwetlike beginsels en artikel 39(2) en (3) in die handves van menseregte en die ongelyke verhouding tussen die partye, ontstaan die vraag of breër verligting deur middel van administratiewe regspleging nie moet seëvier in gevalle van sodanige “private administratiewe regspleging” nie. Ten slotte ondersoek die outeur die beginsel van vermyding van leerstellige verstrengeling. Dit onderstreep die respek wat ons howe verleen aan godsdiensvryheid waarkragtens die howe hulle daarvan weerhou om in te meng in die sake van godsdienstige organisasies tensy dit buite die bestek van die tersake eie norme en riglyne soos vervat in die tersake grondwette val.

Aantekening: The unconstitutionality of section 5(1)(a) of the Extradition Act 67 of 1962 – implications for ongoing and future extradition proceedings in light of a decision of the Constitutional Court

Aantekening: The unconstitutionality of section 5(1)(a) of the Extradition Act 67 of 1962 – implications for ongoing and future extradition proceedings in light of a decision of the Constitutional Court

Authors: JJ Du Toit and M Svicevic

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Retired Deputy Director of Public Prosecutions, Johannesburg; University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 538-561
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a7

Abstract

Op 18 Desember 2020 het die konstitusionele hof uitspraak gelewer in Smit v Minister of Justice and Correctional Services oor die grondwetlikheid al dan nie van artikel 5(1)(a) van die Wet op Uitlewering 67 van 1962. In besonder was in geskil of ’n lasbrief van inhegtenisneming wat ingevolge daardie artikel deur ’n landdros uitgereik is, teenstrydig was met artikel 12(1)(a) van die grondwet – die reg om nie arbitrêr of sonder regverdige rede van vryheid ontneem te word nie. Die minderheidsuitspraak het bevind dat artikel 5(1)(a) nie ongrondwetlik was nie want dit kan met inagneming van die grondwet uitgelê word. Die meerderheidsuitspraak het bevind dat artikel 5(1)(a) teenstrydig was met die grondwet en dus nietig is. In hierdie bydrae ondersoek die outeurs die oorwegings wat sowel in die meerderheids- as die minderheidsuitsprake ter sprake was. Hulle bespreek vervolgens ook hoe die meerderheidsuitspraak in die lig van artikel 5(1)(a) in die toekoms in die praktyk hanteer sal moet word. Die outeurs lig ook die kriteria uit vir die uitreiking van lasbriewe van inhegtenisneming, wat in sekere ander vergelykbare buurlande in Suidelike Afrika en in Australië gevolg word. Die gevolgtrekking van die outeurs is dat die meerderheidsuitspraak, dat artikel 5(1)(a) teenstrydig met die grondwet is, nie ondersteun kan word nie. Wanneer ’n landdros ’n lasbrief van inhegtenisneming uitreik ingevolge artikel 5(1)(a), saamgelees met artikel 43(1) van die Strafproseswet 51 van 1977, is ’n landdros inderdaad verplig om homself te vergewis dat daar wel ’n redelike vermoede is dat die persoon teen wie die lasbrief uitgereik word, die beweerde oortreding begaan het. Gegewe die meerderheidsuitspraak, word die implikasies van die hof se beslissing uiteengesit en voorstelle word gemaak hoe hierdie uitspraak in die toekoms hanteer moet word.

Regspraak: What it means to be a parent: implications for family law and the law of intestate succession

Regspraak: What it means to be a parent: implications for family law and the law of intestate succession

Authors: MJ De Waal and L Mills

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 562-571
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a8

Abstract

Die Gautengse afdeling van die hooggeregshof (Pretoria) het in Wilsnach NO v M beslis dat die natuurlike vader van ’n kind wat intestaat gesterf het nie as die “ouer” van die kind gekwalifiseer het vir doeleindes van die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 nie. Die kind se ouma aan moederskant het volgens die hof egter wel gekwalifiseer om as “ouer” en daarom as die kind se intestate erfgenaam erken te word. Die hof het tot hierdie slotsom gekom nadat ’n kinderhof die ouerlike verantwoordelikhede en regte van die natuurlike vader beëindig het en ouerlike verantwoordelikhede en regte aan die kind se ouma toegeken het. Die hof was van mening dat die betekenis van die woord “ouer” in die Wet op Intestate Erfopvolging nie slegs op ’n biologiese band dui nie en dat die natuurlike vader nie voldoen het aan die definisie van wat as ’n ouer beskou behoort te word nie. Faktore wat in hierdie verband ’n rol gespeel het, was dat die vader onder andere nooit vir die kind gesorg, hom onderhou, as sy voog opgetree, hom teen mishandeling beskerm of hom begelei het om sy volle potensiaal te bereik nie. Die erkenning van die vader as ouer en dus as intestate erfgenaam sou volgens die hof teen die beste belange van die kind ingedruis het. Die ouma, wat wél bogenoemde ouerlike funksies vervul het, kon egter wel as ouer erken word en sy kon dus saam met die kind se natuurlike moeder intestaat van haar kleinseun erf. In hierdie bydrae word aan die hand gedoen dat, alhoewel hierdie beslissing moontlik sommige se sin vir billikheid mag bevredig, die hof nie korrek was in die wyse waarop hierdie resultaat bereik is nie. Daar word op enkele fundamentele verskille gewys tussen die hof se hantering van die probleem in die Wilsnach-saak en dié van die howe in hul vroeëre herinterpretasie van die begrip “eggenoot” in die Wet op Intestate Erfopvolging. Ook is die hof se toepassing van die beginsel van die beste belange van die kind en sy invoering van die Kinderwet 38 van 2005 se definisie van “ouer” in hierdie konteks omstrede. Wat die bereiking van ’n billike resultaat betref, word op enkele alternatiewe gewys wat die hof sou kon oorweeg het. Regshervorming rondom hierdie kwessie – in soverre dit wel nodig is – behoort eerder op ’n deurdagte en gestruktureerde wyse te geskied.