Corroboration of confessions: a comparative view of the approaches in Australia, South Africa and other common-law jurisdictions

ARTIKEL

Corroboration of confessions: a comparative view of the approaches in Australia, South Africa and other common-law jurisdictions

Author: Wouter le R de Vos

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Visiting professor, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 1-20
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a1

Abstract

’n Bekentenis kan omskryf word as ’n omvattende erkenning buite die hof gedoen deur ’n beskuldigde in ’n strafsaak waarin hy of sy onomwonde skuld beken ten opsigte van die ten laste gelegde misdaad. Aangesien ’n bekentenis al die elemente van die misdaad dek, word dit oor die algemeen as ’n voldoende grondslag vir ’n skuldigbevinding beskou. Daar is egter sekere voorbehoude wat in ag geneem moet word. Westerse demokratiese regstelsels verg eerstens dat ’n bekentenis op ’n behoorlike wyse bekom moes wees, wat meebring dat dit minstens vrywilliglik afgelê moes wees, ten einde toelaatbaar te wees. Tweedens vereis sommige jurisdiksies dat ’n bekentenis wat toelaatbaar bevind is, slegs as grondslag van ’n skuldigbevinding kan dien mits die inhoud daarvan andersins gestaaf word of, so nie, indien daar getuienis buite die bekentenis is wat bewys dat die ten laste gelegde misdaad só gepleeg is. Laasgenoemde vereiste staan bekend as die corpus delicti-reël, wat letterlik beteken die “liggaam van die misdaad”.
Die oogmerk met hierdie vereistes is om die gevaar uit te skakel of minstens te verminder dat ’n vals bekentenis as grondslag vir ’n skuldigbevinding gebruik word. Regspraak in Engeland en die Verenigde State van Amerika (VSA) het sedert die sewentiende eeu aangetoon dat mense soms vals bekentenisse maak. Daar is verskeie redes hiervoor, onder andere ’n verdagte wat verdere aggressiewe ondervraging deur die polisie wil vermy of wat ’n familielid of geliefde wil beskerm deur die aanspreeklikheid op hom of haar te neem en ’n persoon wat geestesonstabiel is en wat sodoende publisiteit soek. In hierdie artikel word ’n regsvergelykende studie gedoen van die posisie in Engeland, Skotland, die VSA, Australië en Suid-Afrika met betrekking tot die stawing van bekentenisse, insluitende die corpus delicti-reël.
Die stawingsvereiste en die corpus delicti-reël behoort ter sprake te kom tydens die evaluering van getuienis aan die einde van die verhoor, wanneer die hof oorweeg of die beskuldigde se bekentenis ’n voldoende grondslag vir ’n skuldigbevinding bied. Teen daardie tyd is die bekentenis reeds toelaatbaar bevind en is die toelatingsvereistes nie meer ter sake nie. Hierdie onderskeid tussen die toelaatbaarheid en evaluering van ’n bekentenis word in die Suid-Afrikaanse reg gehandhaaf, maar dit is nie die posisie in die ander jurisdiksies onder bespreking nie. Die konsepte “toelaatbaarheid” en “evaluering van bekentenisse” word dikwels saamgesmelt en die stawingskonsep word ook in die betekenis van die toelaatbaarheid van bekentenisse gebruik.
In Engeland is die fokus hoofsaaklik op die toelaatbaarheid van bekentenisse, wat informele erkennings insluit. In wese gaan dit oor die vrywilligheidsvereiste, maar die betroubaarheid van ’n verklaring speel ook ’n rol. Dit lei tot verwarring want betroubaarheid kom eintlik ter sprake by evaluering van bekentenisse.
In Skotland geld ’n algemene stawingsvereiste ten opsigte van misdade in die algemeen. Dit beteken dat die feite in geskil deur twee onafhanklike bronne van getuienis bewys moet word. Die vervolgingsgesag moet dus bewys dat die betrokke misdaad gepleeg is én dat die beskuldigde die oortreder was. Beide elemente moet dan deur twee onafhanklike bronne van getuienis gestaaf word. Indien die vervolging op ’n bekentenis steun, moet die bekentenis deur onafhanklike getuienis gestaaf word. Getuienis van die corpus delicti is nie opsigself voldoende om aan die stawingsvereiste te voldoen nie.
In die Verenigde State van Amerika is die posisie baie verwarrend. Sommige bronne behandel die corpus delicti-beginsel in die konteks van sowel die toelaatbaarheid as die evaluering van bekentenisse. Ander bronne verwys daarna as uitsluitlik ’n toelaatbaarheidsvereiste. Enkele bronne behandel dit as ’n vereiste rakende die evaluering van bekentenisse. Na my mening is daar weinig leiding te vind in die Amerikaanse bronne.
Die fokus in al die verskillende jurisdiksies in Australië val op die toelaatbaarheid van informele erkennings, wat bekentenisse insluit. Sedert die uitspraak van die hoë hof in McKinney v R is wetgewing in al die jurisdiksies aangeneem wat in die algemeen vereis dat erkennings en bekentenisse afgelê in polisie-aanhouding gestaaf moet word deur ’n audio-visuele of elektroniese opname. Die begrip stawing word dus hier in die betekenis van die toelaatbaarheid van bekentenisse gebruik. Nie een van die Australiese jurisdiksies vereis stawing van die inhoud van ’n bekentenis om as grondslag van ’n skuldigbevinding te kan dien nie. Die stawingsvereiste is dus gefokus op die omstandighede met die maak van ’n bekentenis en nie op die inhoud daarvan nie.
Teen die voorgaande agtergrond meen ek dat die Suid-Afrikaanse posisie op ’n goeie grondslag gevestig is. Daar word ’n duidelike onderskeid getref tussen enersyds die vereistes betreffende die toelaatbaarheid van bekentenisse en die stawing van sodanige verklarings andersyds. Wat laasgenoemde betref, word vereis dat ’n bekentenis in ’n wesenlike opsig bevestig moet word of, so nie, dat getuienis buite die bekentenis moet bewys dat die betrokke misdaad só gepleeg is. Die enigste kritiek daarteen is dat die onderskeid tussen informele erkennings en bekentenisse kunsmatig en onnodig is. Beide is inkriminerende verklarings en, met inagneming van die grondwetlike bepalings, behoort dieselfde vereistes betreffende toelaatbaarheid ten opsigte van albei te geld.

Lessons from the New South Wales Strata Schemes Legislation Amendment Act 14 of 2025

ARTIKEL

Lessons from the New South Wales Strata Schemes Legislation Amendment Act 14 of 2025

Author: CG van der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Research Fellow and Emeritus Professor, Department of Private Law, University of Stellenbosch and Emeritus Professor of Civil Law, University of Aberdeen
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 21-39
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a2

Abstract

Die Suid-Afrikaanse deeltitelwet en regulasies is gebaseer op ’n vorige weergawe van die Nieu-Suid-Wallis wetgewing en regulasies wat ’n ingrypende transformasie ondergaan het in 2025 met die inwerkingtreding van die Strata Scheme Legislation Amendment Act, waaruit Suid-Afrika die volgende lesse kan leer.
(1) Die wysigingswet werk met die innoverende begrippe toeganklikheids – (accessibility) infrastruktuur en volhoubaarheids – (sustainability) infrastruktuur. Toeganklikheidsinfrastruktuur dui op die aanleg, verwydering, of aanpassing van bepaalde gedeeltes van die gemeenskaplike eiendom ten gunste van ’n deeleienaar of om ’n gestremde persoon se toegang tot die gemeenskaplike eiendom of sy of haar strata-eenheid te vergemaklik. Vir ’n toeganklikheidsinfrastruktuurbesluit om sodanige struktuur te befonds, by die gemeenskaplike eiendom te voeg, die gemeenskaplike eiendom te verander of ’n nuwe struktuur op die gemeenskaplike eiendom op te rig sowel as om die voorgeskrewe bestuursreëls te wysig, vereis die wysigingswet nou ’n gewone besluit in plaas van ‘n spesiale besluit. Vir sodanige besluit moet die algemene vergadering onder andere die kostes en finansiering van die infrastruktuur, voortdurende onderhoudsverpligtinge, en, belangrik, die nadeel wat die persoon wat die installasie aanvra sou ly as dit geweier word, oorweeg. Hierdie gebalanseerde benadering fasiliteer nodige veranderinge terwyl die praktiese aspekte behoorlik in ag geneem word.
Die wysigingswet stipuleer duideliker regulasies vir die goedkeuring en onderhoud van volhoubare (sustainability) infrastruktuur in die vorm van sonpanele, elektriese voertuiglaaistasies en ander omgewingsinisiatiewe. Voorgeskrewe bestuursreëls mag nie die aanleg van volhoubare infrastruktuur uitsluit net om die eksterne voorkoms van ’n gebou te behou nie, behalwe in geboue wat as erfenis geboue gelys is. Regspersone moet beramings vir die aanleg, vervanging of herstel van volhoubare infrastruktuur in hul kapitaalwerke (reserwe) fonds beramings insluit en die agenda van elke algemene jaarvergadering moet spesifieke items insluit oor die skema se omgewingsvolhoubaarheid, insluitend sy jaarlikse energie- en waterverbruik en uitgawes.
(2) Die wysigingswet verbied ontwikkelaars om onrealistiese lae aanvanklike heffings te vereis om deeltiteleenhede meer aantreklik vir kopers te maak. Dit veroorsaak dat nuwe eienaars met ernstig ondergefinansierde administratiewe- en kapitaalwerke fondse gelaat word. Die ontwikkelaar word verplig om planne, spesifikasies, sertifikate en finansiële rekords aan die regspersoon ten minste veertien dae voor die eerste jaarvergadering te oorhandig. Verder moet die eerste jaarlikse begroting en heffings gebaseer wees op ’n redelike beraming van die verwagte skema uitgawes, gesertifiseer deur ‘n verslag van ‘n onafhanklike en gekwalifiseerde bourekenaar. Daarbenewens moet die oorspronklike onderhoudsplan van die ontwikkelaar aandui watter gedeeltes van die gebou onderhoud, herstel of vervanging benodig, die koste daarvan en die tydstip waarop dit moet geskied. Boonop moet die ontwikkelaar die nuwe regspersoon toelaat om hul eie bestuursagente aan te stel en ‘n konflik van belange te vermy deur nie sy eie medewerkers in diens te neem nie. Ernstige boetes word vir die oortreding van hierdie nuwe verpligtinge voorgeskryf.
(3) Die wysigingswet beoog om deursigtigheid, billikheid en doeltreffendheid van strata bestuur te verbeter. Strata komitees het soos maatskappydirekteure duideliker verpligtinge en moet enige botsing van belange in ’n saak wat oorweeg word, openbaar. Die reg van eienaars om belangrike skemastate te inspekteer word versterk deur die vermoë van ’n komitee of die bestuursagent om wettige versoeke om inligting te verhoed, te verminder. Inmiddels word die lede van die strata komitee verplig om ’n voorgeskrewe opleidingskursus te voltooi en ’n lid wat versuim om die opleiding binne die voorgeskrewe tyd te voltooi, is outomaties sy amp kwyt. Ten slotte kan komiteelede wat onderpresteer verwyder word deur ’n gewone meerderheidsbesluit in plaas van ’n spesiale besluit. Die nuwe regsverpligtinge en verpligte opleidingsvereistes behoort die dikwels amateuragtige gehalte van beheer oor komiteelede te verhoog tot ’n meer professionele standaard.
(4) Die wysigingswet maak algemene vergaderings meer demokraties. Elektroniese deelname aan en stemming op algemene vergaderings verbeter die deelname van nie-aanwesiges en moderniseer skema-aangeleenthede. Nuwe beperkings op die gebruik van volmagte verhoed dat ’n enkele individu genoeg volmagstemme kan vergader om die uitslag van vergaderings te beheer tot die nadeel van breër eienaarsgroepe.
(5) Die wysigingswet bepaal dat elke kommissie of voordeel wat deur ’n strata bestuursagent ontvang word, goedgekeur moet word op ’n algemene vergadering. Dit beteken dat bestuursagente nie mag kontrakteer om vrygestel te word van aanspreeklikheid vir hul eie nalatigheid nie. Dit is ’n kragtige middel om hoër professionele standaarde en voldoende versekeringsdekking te verseker. Die feit dat ’n bestuursagent hom of haar ingevolge die wysigingswet kan verdedig teen vervolging vir ’n oortreding veroorsaak deur die regspersoon indien die bestuursagent redelike stappe neem om dit te voorkom, beskerm die professionele agent wat disfunksionele komitees korrigeer. Dit beteken dat bestuursagente en bestuursfirmas wat op ’n deursigtige fooi-vir-diens basis werk en toegevoegde waarde aan deeltitelskemas verskaf in die toekoms sal floreer. Ten slotte verleen die wysigingswet aan die sekretaris die bevoegdheid om standaard agentskapsooreenkomste goed te keur en moet die bestuursagent ’n relaas van hul werksaamhede aan die regspersoon verskaf.
(6) Die wysigingswet onderskei duideliker tussen kosmetiese werke (wat geen goedkeuring vereis nie), klein verbouings (wat goedkeuring deur die strata komitee of deur ‘n gewone besluit vereis), en groot werke wat gemeenskaplike eiendom of die struktuur van geboue drasties verander (wat ’n spesiale besluit vereis).
(7) Die wysigingswet bepaal ten slotte dat die ontwikkelaar van ’n multiverdieping deeltitelgebou voor die eerste jaarvergadering ’n onafhanklike landmeter moet aanstel om die oorpronklike onderhoudsplan te hersien en te bevestig dat die plan die uitgawes vir die daaropvolgende jaar korrek uiteensit and dat die plan voorberei is in ooreenstemming met die voorgeskrewe vorm. Om integriteit te verseker, mag die ontwikkelaar nie ‘n deelgenoot aanstel om die syfers goed te keur nie.

Boundary extension and section 5(1)(h) of the Sectional Titles Schemes Management Act: does a body corporate have unlimited discretion to refuse consent?

ARTIKEL

Boundary extension and section 5(1)(h) of the Sectional Titles Schemes Management Act: does a body corporate have unlimited discretion to refuse consent?

Authors: WT du Toit and JG Horn

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Attorney, notary public, conveyancer and former Community Schemes Ombud Service adjudicator; Senior lecturer in Property Law and Sectional Titles, University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 40-53
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a3

Abstract

Daar bestaan heelwat misvattings oor die regspersoon se rol om tot uitbreidings van deelgrense toe te stem. Menige dooiepunt is al tussen regspersone en hulle individuele lede bereik as gevolg van die regspersoon se wanopvatting dat artikel 5(1)(h) van die Deeltitelskemabestuurswet aan dit onbeperkte bevoegdhede verleen om uitbreidings by deelgrense te weier. Dié situasie word vererger deur die algehele gebrek aan kruisverwysing tussen die wetgewing van die plaaslike regerings en deeltitelbedelings.
Wanneer ’n mens egter die rolle en prosedures van die plaaslike owerheid van dié van die regspersoon skei, word dit baie duidelik dat die twee wetsbedelings ontwerp is om ná mekaar toegepas te word, sonder enige wedywering tussen die bevoegdhede wat aan onderskeidelik die plaaslike owerheid en die regspersoon verleen word. Die plaaslike owerheid tree ingevolge plaaslike regeringswetgewing op om die gebruiksregte toe te ken en die bouplanne goed te keur wat nodig is om die fisiese uitbreiding van deelgrense te fasiliteer. Daarna tree die regspersoon kragtens deeltitelwetgewing op om die uitbreiding ingevolge artikel 5(1)(h) goed te keur en sodoende die deeltitelgedeelte van die proses aan die gang te sit, wat uitloop op die registrasie van die uitbreiding van die deelgrense in die deeltitelregister in die akteregistrasiekantoor.
Volgens so ’n beskouing is die bevoegdhede wat artikel 5(1)(h) aan die regspersoon verleen nie onbelemmerd of van ’n onbeperkte omvang nie, maar pas dit in by ’n groter wets- en prosedureraamwerk. Die regspersoon is nie by magte om bouplanne ter syde te stel of gebruiksregte tot niet te maak wat die plaaslike regering reeds goedgekeur en toegeken het nie. Ten einde ’n bydrae tot regsekerheid in hierdie omstandighede te maak, sal hierdie artikel eerstens die volledige statutêre vereistes, wat in die twee aparte statutêre regimes vervat word wat die uitbreiding van ’n individuele deel se grense of vloeroppervlakte tot gevolg het, beskryf. Vervolgens sal die individuele prosesse nie bloot geïdentifiseer word nie, maar die belang van die volgorde van die prosesse van die aanvang tot die voltooiing, sal ook uitgelig word.
’n Komplekse statutêre raamwerk wat uit ’n opeenvolging van prosesse bestaan, waartydens die een op die ander bou, en nie met mekaar meeding nie, sal uit die verduideliking blyk. Indien hierdie prosesse behoorlik deur regspersone verstaan word, sal mistastings uit die weg geruim kan word.

A critical assessment of the board neutrality principle in South African takeover regulation against the backdrop of a stakeholder-inclusive framework

ARTIKEL

A critical assessment of the board neutrality principle in South African takeover regulation against the backdrop of a stakeholder-inclusive framework

Authors: Justice Mudzamiri and Kathleen van der Linde

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Research Fellow in the Faculty of Law, University of Johannesburg; Professor of Corporate Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 54-69
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a4

Abstract

Hierdie bydrae ondersoek die regverdigbaarheid van die direksieneutraliteitsbeginsel, ook bekend as die reël teen verydelende optrede, uit die perspektief van die beste belang van ’n maatskappy wat die teiken van ’n oorname is. Ingevolge Suid-Afrikaanse oornameregulering geld ’n verbod op optrede wat ’n oorname-aanbod kan verydel of aandeelhouers die geleentheid kan ontsê om oor die meriete van ’n aanbod te besluit. Daar is ’n lys van spesifieke aksies wat die direksie van die doelwitmaatskappy nie sonder die toestemming van die aandeelhouers mag onderneem sodra ’n aanbod ontvang is of die direkteure glo dat ’n aanbod op hande is nie. Deur hul effektiewe vetoreg op verydelende optrede geniet die betrokke aandeelhouers dus die eksklusiewe reg om oor die aanbod te besluit.
Ons beoordeel die Suid-Afrikaanse beginsel van direksieneutraliteit in samehang met die vergelykbare posisie in die Verenigde Koninkryk en vergelyk dit dan met die kontrasterende benadering in die Verenigde State van Amerika. In laasgenoemde regsbestel staan dit die direksie vry om stappe te neem wat ’n aanbod kan verydel indien die direkteure op redelike gronde glo dat die oorname ’n negatiewe invloed op korporatiewe beleid en effektiwiteit sal hê. In hierdie verband geld benewens hul gebruiklike vertrouens- en sorgsaamheidspligte ’n aangepaste, strenger, sake-oordeeltoets. Hierdie benadering maak sterk staat op die betrokkenheid van die howe om die optrede te toets.
Aangesien die huidige Suid-Afrikaanse benadering die belange van aandeelhouers vooropstel, oorweeg ons of die direksie nie ook hier toegelaat moet word om die uitkoms van ’n oorname-aanbod te beïnvloed in die beste belang van die maatskappy met inagneming van die belange van ander belanghebbendes nie.

A judicial review of “any other arbitrary ground” as a ground of unfair discrimination under section 6(1) of the Employment Equity Act 55 of 1998

ARTIKEL

A judicial review of “any other arbitrary ground” as a ground of unfair discrimination under section 6(1) of the Employment Equity Act 55 of 1998

Author: Elsabé Huysamen

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer in Mercantile and Labour Law, University of the Western Cape
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 70-93
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a5

Abstract

Binne die oorkoepelende reg op gelykheid soos gewaarborg deur artikel 9 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, word differensiële behandeling op ontoelaatbare gronde, of om ontoelaatbare redes, spesifiek verbied ingevolge die grondwet se bepalings oor onbillike diskriminasie (a 9(3) en (4)). In die arbeidskonteks word hierdie grondwetlike beskerming teen onbillike diskriminasie grotendeels gereguleer deur die Wet op Gelyke Indiensneming 55 van 1998. Dit was eers ingevolge die Gelyke Indiensneming Wysigingswet 47 van 2013 dat die frase “enige ander arbitrêre grond” in 2014 geïnkorporeer is in artikel 6(1) van die Wet op Gelyke Indiensneming. Alhoewel hierdie frase, en die betekenis daarvan, met eerste oogopslag eenvoudig gelyk het, het die ontleding en toepassing daarvan aanvanklik tot wydverspreide debat gelei.
Teen die voorafgaande agtergrond bied hierdie artikel ’n oorsig van hoe die kommissie vir versoening bemiddeling en arbitrasie (KVBA) en arbeidshowe die frase “enige ander arbitrêre grond” binne die bestek van eise gebaseer op onbillike diskriminasie ingevolge die gewysigde artikel 6(1) geïnterpreteer het. Die bespreking begin met ’n oorsig van ’n tydperk van relatiewe onsekerheid wat onmiddellik gevolg het na die 2014 wysigings tot die Wet op Gelyke Indiensneming. Gedurende hierdie tydperk het die KVBA en arbeidshowe uiteenlopende benaderings gevolg rakende die vraag of “enige ander arbitrêre grond” eng of breed geïnterpreteer behoort te word. Ingevolge ’n eng benadering word die frase vertolk as ’n ongespesifiseerde, maar analoë grond tot die lys van gronde wat reeds in artikel 6(1) vervat is. Gevolglik, en soortgelyk aan die posisie voor die 2014 wysiging van artikel 6(1), bestaan daar steeds net twee kategorieë van verbode gronde: gelyste en ongelyste (of arbitrêre) gronde. Daarteenoor, ingevolge ’n breë benadering, moet “arbitrêr” geïnterpreteer word as irrasionele of wispelturige optrede. Ingevolge ’n breë benadering het die uitdruklike toevoeging van die frase “enige ander arbitrêre grond” dus die bestaan van drie duidelike kategorieë van verbode gronde aangedui: gelyste, ongelyste én arbitrêre gronde.
Vervolgens val die klem op die arbeidshof se uitspraak in Ndudula v Metrorail, gevolg deur die arbeidsappèlhof se beslissings in Naidoo v Parliament of the Republic of South Africa en Minister of Justice and Correctional Services v Ramaila, wat gesamentlik ’n waardigheid-gefokusde (eng) benadering tot die interpretasie van die frase bevestig het.
Ten slotte bespreek die artikel belangrike lesse wat geneem kan word uit regspraak tot op datum en belig dit die beginsels en oorwegings wat die KVBA en arbeidshowe se huidige benadering tot eise van onbillike diskriminasie op ’n arbitrêre grond gevorm het.