Augmenting ethics and the normative value system in the regulation of emerging technologies

Author: Michele Van Eck

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor of Private Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2023, p. 476 – 492
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i3a5

Abstract

Ontwikkelde en opkomende tegnologieë (soos kunsmatige intelligensie en robotika) is onvoorspelbaar en het in uiterste gevalle die vermoë om quasi-onafhanklike besluite te neem sonder die betrokkenheid van mense. Die onvoorspelbaarheid van ontwikkelde en opkomende tegnologieë maak dit moeilik om sodanige tegnologieë te beheer. Twee oplossings is aanvanklik deur kundiges in die bedryf en sekere akademiese skrywers voorgestel vir die beheer van sodanige tegnologieë, soos om selfregulasie asook die drie wette van robotika van die wetenskapfiksie-outeur, Isaac Asimov, te gebruik as die etiese en normatiewe raamwerk vir die regulering van ontwikkelde en opkomende tegnologieë. In hierdie bydrae argumenteer die outeur dat sodanige oplossings ’n konseptueel foutiewe benadering bevat en dat tradisionele reguleringsmeganismes voldoende is om die beheer van ontwikkelde en opkomende tegnologieë asook die etiese en normatiewe raamwerk van sulke tegnologieë aan te spreek. Sodanige tradisionele reguleringsmeganismes bevat sowel ex ante-kontroles (wat in plek gestel is voor die aanvang van ’n aktiwiteit, soos lisensiëring, registrasie en goedkeuringsvereistes) asook ex post-kontroles (wat ingestel word na die begin van ’n aktiwiteit, soos om ’n bedryf of ’n spesifieke produk se nakoming van wetgewende reëls en regulasies te verseker en te monitor). Wetgewende en regulatoriese raamwerke van ’n land inkorporeer in ’n groter of mindere mate, beide ex ante en ex post-kontroles en ’n mens kan verwag dat ’n kombinasie van die twee tipes beheermaatreëls gebruik mag word in die beheer van ontwikkelde en opkomende tegnologieë. Hierdie kontroles strek oor drie gebiede, naamlik die ontwikkeling, die gebruik en die funksionering van die tegnologie. Dit is die derde kategorie wat ’n twispunt geword het aangesien ontwikkelde en opkomende tegnologieë die vermoë van quasi-onafhanklike besluitneming het en in sommige gevalle op onvoorspelbare maniere optree. Hierdie onvoorspelbaarheid skep spanning met die tradisionele manier waarop tegnologieë beheer en gereguleer word. In werklikheid is die wetgewende en regulatoriese beheermaatreëls in Europa, Kanada en in die Verenigde State van Amerika nie beduidend anders as die huidige benadering tot tradisionele beheermaatreëls nie en sodanige raamwerke berus op ’n risiko-gebaseerde benadering. Die outeur kom tot die gevolgtrekking dat dit maklik is om vasgevang te word in die fantasievolle wêreld van wetenskapfiksie asook spekulatiewe en filosofiese debat oor ontwikkelde en opkomende tegnologieë. Die regsreaksie en die deelnemers aan die regsdiskoers moet hul egter weerhou van fantasievolle en fiktiewe benaderings. Die werklike kwessies behoort eerder bespreek te word want ’n ernstige regsdebat word vereis op hierdie gebied van die reg. Die relatief konserwatiewe benadering wat in Europa, Kanada en die Verenigde State van Amerika in dié verband gevolg word, behoort as voorbeeld te dien vir die Suid-Afrikaanse wetgewer vir die ontwikkeling van beheermaatreëls vir ontwikkelde en opkomende tegnologieë.