ARTIKEL

An ethical framework for the use of artificial intelligence in the legal profession

Author: M Van Eck

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor, School of Law, University of Witwatersrand
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 454-471

Abstract

In 2024 het Van Eck “Error 404 or an error in judgment? An ethical framework for the use of ChatGPT in the legal profession” 2024 TSAR 469-490 ’n basiese etiese raamwerk vir die gebruik van ChatGPT vir regspraktisyns voorgestel. Sedertdien het meer etiese gebreke in die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologieë binne die regsberoep na vore gekom, insluitend foutiewe saakaanhalings, valse gefabriseerde saakverwysings, sowel as vals inligting in deskundige getuienis in die hof. In al die gevalle is die foutiewe en vals inligting verkry met die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie. In die lig hiervan het verskeie internasionale regsregulerende liggame in die Verenigde State van Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Nigerië etiese riglyne ontwikkel vir regspraktisyns se gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie. Die regspraktykraad in Suid-Afrika of die prokureursorde van Suid-Afrika het nog geen sodanige riglyne verskaf nie. Sonder duidelike riglyne bly daar onsekerheid oor presies die verwagte optrede van regspraktisyns en ’n etiese raamwerk in die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie.
Teen die bogenoemde agtergrond brei die outeur met hierdie artikel die aanvanklike etiese en professionele raamwerk vir die gebruik van kunsmatige intelligensie tegnologie uit wat in bogemelde publikasie voorkom, deur die onlangse ontwikkelings in die Verenigde State van Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Nigerië te ondersoek. Fokus word geplaas op die mees algemene etiese temas wat uit hierdie jurisdiksies na vore gekom het, naamlik die (i) bevoegdheid en vaardighede van ’n regspraktisyn, (ii) vertroulikheid en datasekuriteit van ’n kliënt se informasie, (iii) toesig verantwoordelikheid van ’n regspraktisyn, (iv) eerlikheid en integriteit van ’n regspraktisyn in die verskaf van regsdienste, asook (v) die hef van redelike fooie in die gebruik van die tegnologie van kunsmatige intelligensie. Binne hierdie etiese temas en internasionale verwikkelinge word die Suid-Afrikaanse Gedragskode vir regspraktisyns ondersoek en wysigings voorgestel. Die argument word dus gemaak dat ’n versuim om die Suid-Afrikaanse Gedragskode op te dateer en die nodige wysigings by te werk nie net regspraktisyns in die algemeen negatief sal beïnvloed nie, maar ook indirek die publiek se vertroue in die regsberoep sal verminder.