REGSPRAAK

An artificial distinction? The interpretation of “debt” in the Prescription Act 68 of 1969

Author: Y Joubert

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 632-641

Abstract

Die litigasie in Rademeyer v Ferreira hou verband met ’n kontrak vir die verkoop van onroerende eiendom tussen Ferreira en Rademeyer. Om te bepaal of Ferreira se eis vir skadevergoeding verjaar het, moes die konstitusionele hof oorweeg of kontrakbreuk en spesifieke nakoming gebaseer is op dieselfde skuldoorsaak. Volgens die meerderheidsbeslissing is dit nie die geval nie, met die gevolg dat Ferreira se skadevergoedingseis suksesvol verdedig is deur Rademeyer se spesiale pleit van verjaring. Alhoewel Ferreira se aansoek vir spesifieke nakoming regterlike stuiting van verjaring ingevolge artikel 15(1) van die Verjaringswet 68 van 1969 bewerkstellig het, kon hierdie aansoek geen effek uitoefen op die eise vir kansellasie en skadevergoeding nie. Die rede hiervoor is dat ’n eis vir skadevergoeding nie gebaseer is op dieselfde skuldoorsaak as ’n vordering vir spesifieke nakoming nie. Die hof bevind dat Ferreira se vordering vir skadevergoeding ten tyde van die aansoek uiteraard nog nie bestaan het nie, aangesien die ooreenkoms op daardie stadium nog nie gekanselleer was nie. Dit sou ’n absurditeit wees om te bevind dat verjaring ten aansien van die eis vir skadevergoeding deur die aansoek om spesifieke nakoming bewerkstellig was. Hierdie gevolgtrekking is teenstrydig met die beslissings van die verhoorhof, die hof van appèl en die minderheid van die konstitusionele hof. Laasgenoemde het die beslissing van die appèlhof bevestig, naamlik dat die grondslag vir die skadevergoedingsaksie dieselfde is as vir spesifieke nakoming, aangesien beide gebaseer is op gemene feite. Derhalwe het die betekening van Ferreira se oorspronklike aansoek in 2012 vir ’n verklarende bevel om spesifieke nakoming te gelas, of in die alternatief skadevergoeding te vorder, die verloop van verjaring ten aansien van die vordering vir skadevergoedings óók gestuit.
In hierdie bespreking word tot die slotsom geraak dat die redenasie van die meerderheid in die konstitusionele hof regtens korrek is, maar vir doeleindes van praktiese doeltreffendheid sou dit beter gewees het om Ferreira die kans te gun om te appelleer. Die redenasie is gebaseer op akademiese opinie dat ’n “skuld” ingevolge die Verjaringswet algemeen interpreteer moet word, en dat ’n oordeel gevel moet word, wat prakties is. Verder, word geredeneer dat daar in die Suid-Afrikaanse reg nog nie uitsluitsel bereik is of kansellasie van ’n ooreenkoms die grondslag vorm van ’n nuwe skuldoorsaak nie.