
ARTIKEL
About context, meaning, and statutory interpretation: exploring related concepts to understand contested terms
Author: TR Carney
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor of Afrikaans Linguistics, University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 503-518
Abstract
Die teorie van wetsuitleg in Suid-Afrika bepaal dat wetsuitleg beide kontekstueel en doelgerig moet wees. Waarnemende appèlregter Unterhalter verwys hierna as “die drietal van teks, konteks en doel”. Konteks word in ’n breë sin beskou as die relevante bepaling, die wet in sy geheel asook enige inligting wat tot die wet se produksie gelei het. Hierdie benadering is daarop gemik om die doel van die betwiste bepaling en die wet in die algemeen te verklaar. Taal, en die vereiste om taal in konteks te verstaan, speel ’n belangrike rol tydens die proses. Ten spyte van die oënskynlike belang van taal, sluit die kontekstuele benadering dikwels ekstrinsieke taalbronne of inligting uit wat verder as die betrokke bepaling en die produksie daarvan strek.
In hierdie konseptuele artikel argumenteer ek dat taalgebaseerde ekstrinsieke data, as deel van ’n breër semantiese konteks, wetsuitlêers kan help om ’n betwiste kwessie te verduidelik waar die woordomskrywingsklousule in ’n wet moontlik beperk kan wees. ’n “Breër semantiese konteks” fokus op die betekenis van woorde (en ander leksikale items) wat sentraal staan tot die kwessie wat geïnterpreteer word. Byvoorbeeld, in twee sake teen die minister van gesondheid en die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte, moet die hof bepaal of gesondheidsaanvullings as medisyne geld en daarom gereguleer moet word. Daarvoor moet die hof bepaal of die begrippe “komplementêre medisyne” en “gesondheidsaanvullings” by die definisie van “medisyne” ingesluit mag word. Deur bykomstig daartoe die betekenis van die begrip “pasiënt” te verken, word die konseptuele reikwydte van “medisyne” uitgebrei. Om die semantiese raamwerk van “pasiënt” te verken, is data van twee databasisse onttrek, naamlik FrameNet en WordNet. Die data weerspieël dat medisyne iets is wat pasiënte gebruik en daarom doelgerig siektes of ander mediese kwale/defekte aanspreek, teenoor gesondheidsaanvullings wat eerder met verbruikers geassosieer en beter as hulpbronne beskou kan word. Dus, die gebruik van taalgebaseerde ekstrinsieke taalbronne, soos die konseptuele uiteensetting van relevante terme, kan vir wetsuitlêers van nut wees om betwiste terme se konteks te verbreed en binne die betrokke bepaling te verstaan.