Aantekeninge: An analysis of the right of a Muslim widow to claim maintenance in terms of section 1 of the Maintenance of Surviving Spouses Act 27 of 1990

Authors: Muneer Abduroaf and Najma Moosa

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Western Cape; University of the Western Cape
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2023, p. 302 – 315
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i2a7

Abstract

In hierdie aantekening ontleed die outeurs eerstens die reg van ’n Moslemweduwee om ’n onderhoudseis teen haar oorlede man se boedel in te stel ooreenkomstig artikel 1 van die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 27 van 1990 in die geval waar die egpaar nie ’n burgerlike huwelik aangegaan het nie, maar slegs ooreenkomstig ’n huwelikskontrak (nikah) ingevolge Moslemreg (Sharia) getroud was. Tweedens word die vraag na die regsgeldigheid van sodanige eis ingevolge Moslemreg ontleed.

Hierdie ontleding berus op die feite wat blyk uit ’n ongeredigeerde weergawe van die onlangse Wes-Kaapse hooggeregshof-uitspraak LB v FNB Trust Services (Pty) Ltd NO wat op 27 September 2022 gelewer is. Hierdie saak handel oor die geval waar ’n Moslemweduwee in effek onterf is deurdat die oorledene haar nie as ’n testamentêre begunstigde aangewys het nie. Terwyl sodanige onterwing deur die Suid-Afrikaanse reg se onderskrywing van testeervryheid toegelaat word, word hierdie vryheid ingevolge Moslemreg beperk in soverre sekere verpligte testamentêre begunstigdes aangewys word aan wie ’n vaste, nie-diskresionêre gedeelte van ’n nalatenskap toegewys moet word. Die vroue in ’n poligame huwelik word hierby ingesluit (Koran, hfst 4 vers 12). Die betrokke weduwee het beweer dat sy ten tye van die oorledene se afsterwe steeds sy vrou in ’n poligame Moslemhuwelik was.

Hierdie aantekening bestaan uit agt afdelings. Afdeling een bevat ’n oorsig van die aantekening en afdeling twee verskaf die feite-grondslag met betrekking tot die uitspraak. Afdeling drie ontleed die reg van ’n Moslemweduwee om ingevolge die Suid-Afrikaanse reg onderhoud van haar oorlede man se boedel te eis. Ooreenkomstig Moslemreg is ’n weduwee hoegenaamd nie geregtig op ’n onderhoudseis teen haar man se boedel nie, maar beskik sy wel oor die reg om as legitimaris en ’n verpligte erfgenaam van haar man te erf.

Afdeling vier neem verdere eise van uitgeslote begunstigdes in oënskou. Afdeling vyf handel oorsigtelik met die verdeling van bates ooreenkomstig Moslemreg ingevolge ’n geldige testament. Afdeling ses bespreek enkele bekommernisse rakende die uitkoms in die Benjamin-saak. Afdeling sewe vergelyk kortliks die status van Moslemweduwees in Duitsland en Nederland – twee regstelsels wat bepaalde ooreenkomste met dié in Suid-Afrika toon. Drie vrae word in hierdie verband oorweeg: (1) Maak die Duitse en Nederlandse reg in die lig van die beduidende persentasie Moslems wat die laaste dekades hul daar tuisgemaak het voorsiening vir die erkenning van ’n onterfde Moslemweduwee wat nie ’n eggenoot ingevolge ’n burgerlike huwelik was nie? (2) Indien nie, hoekom nie; en (3) waarom behoort die Suid-Afrikaanse regsposisie anders te wees? Afdeling agt sluit die aantekening af met ’n oorhoofse ontleding van die bevindings en aanbevelings.