
REGSPRAAK
A reassuring judgment for “slip and fall” victims with a caveat to restaurateurs to reassess the effectiveness of their disclaimer notices
Author: J Scott
ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2025, p. 579-597
Abstract
Sogenaamde “gly en val”-litigasie dien met eentonige reëlmaat voor ons howe. Ongelukkig strook die uitkomste van vele van die hofsake nie met mekaar nie en noodgedwonge soek ’n mens dan leiding in die nuutste uitsprake van ons hoër howe. Hierdie gevalle behels die probleemgebied in die deliktereg wat te make het met aanspreeklikheid weens ’n onregmatige, nalatige versuim (nalate) en, meer in besonderhede, waar die eienaar en/of beheerder van ’n perseel nagelaat het om voldoende maatreëls te tref om diegene wat die perseel betree teen ’n gevaartoestand inherent aan die perseel te beskerm met gevolglike nadeel aan sodanige aanwesiges. Die delikselemente wat meeste onder die loep geneem word, is dié van onregmatigheid en nalatigheid (met inbegrip van bydraende nalatigheid), terwyl daar ook in talle gevalle uitsluitsel oor die doeltreffendheid van eienaars se vrywaringskennisgewings gegee word.
In die saak onder bespreking het ’n klant in die verweerder se restaurant op nat vloerteëls gegly, geval en ernstige beserings opgedoen. Die hof het bevind dat haar val te wyte was aan ’n skoonmaker se versuim om die nodige waarskuwingsbordjies behoorlik sigbaar op die vloer te plaas. Die hof bevind dat die eiseres die vereiste delikselemente van handeling (late), onregmatigheid, nalatigheid, nadeel en kousaliteit bewys het en self nie van bydraende nalatigheid verwyt kon word nie. Verder is daar beslis dat die verweerder nie op die gebruiklike vrywaringskennisgewing wat behoorlik uitgestal was aanspraak kon maak nie, omdat dit onbillik teenoor die eiser sou wees in die betrokke omstandighede.
Daar word aangedui dat die uitspraak in vele opsigte vir kritiek vatbaar is, byvoorbeeld met betrekking tot die wyse waarop die waarnemende regter haar stof gerangskik het, asook hoe sy die elemente van nalatigheid en onregmatigheid nie altyd duidelik onderskei het nie deur gebruik te maak van uitgediende terminologie soos “duty of care”. Besondere aandag word bestee aan die hof se hantering van die vrywaringskennisgewing, veral met verwysing na die onlangse uitspraak rakende dieselfde McDonald’s-kennisgewing in Lombard v McDonald’s Wingtip waar die beroep daarop wél suksesvol was.