ARTIKEL
A critical assessment of the board neutrality principle in South African takeover regulation against the backdrop of a stakeholder-inclusive framework
Authors: Justice Mudzamiri and Kathleen van der Linde
ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Research Fellow in the Faculty of Law, University of Johannesburg; Professor of Corporate Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2026, p. 54-69
https://doi.org/10.47348/TSAR/2026/i1a4
Abstract
Hierdie bydrae ondersoek die regverdigbaarheid van die direksieneutraliteitsbeginsel, ook bekend as die reël teen verydelende optrede, uit die perspektief van die beste belang van ’n maatskappy wat die teiken van ’n oorname is. Ingevolge Suid-Afrikaanse oornameregulering geld ’n verbod op optrede wat ’n oorname-aanbod kan verydel of aandeelhouers die geleentheid kan ontsê om oor die meriete van ’n aanbod te besluit. Daar is ’n lys van spesifieke aksies wat die direksie van die doelwitmaatskappy nie sonder die toestemming van die aandeelhouers mag onderneem sodra ’n aanbod ontvang is of die direkteure glo dat ’n aanbod op hande is nie. Deur hul effektiewe vetoreg op verydelende optrede geniet die betrokke aandeelhouers dus die eksklusiewe reg om oor die aanbod te besluit.
Ons beoordeel die Suid-Afrikaanse beginsel van direksieneutraliteit in samehang met die vergelykbare posisie in die Verenigde Koninkryk en vergelyk dit dan met die kontrasterende benadering in die Verenigde State van Amerika. In laasgenoemde regsbestel staan dit die direksie vry om stappe te neem wat ’n aanbod kan verydel indien die direkteure op redelike gronde glo dat die oorname ’n negatiewe invloed op korporatiewe beleid en effektiwiteit sal hê. In hierdie verband geld benewens hul gebruiklike vertrouens- en sorgsaamheidspligte ’n aangepaste, strenger, sake-oordeeltoets. Hierdie benadering maak sterk staat op die betrokkenheid van die howe om die optrede te toets.
Aangesien die huidige Suid-Afrikaanse benadering die belange van aandeelhouers vooropstel, oorweeg ons of die direksie nie ook hier toegelaat moet word om die uitkoms van ’n oorname-aanbod te beïnvloed in die beste belang van die maatskappy met inagneming van die belange van ander belanghebbendes nie.