A cause of action raising a triable issue in a class action: reconsidering the certification threshold

Author: Theo Broodryk

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor and Head of the Law Clinic at the University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2023, p. 270 – 282
https://doi.org/10.47348/TSAR/2023/i2a5

Abstract

In Children’s Resource Centre Trust v Pioneer Food (Pty) Ltd (2013 2 SA 213 (HHA)) het ar Wallis verskeie vereistes vir sertifisering van ’n groepsgeding neergelê. Hierdie vereistes is later deur die konstitusionele hof tot blote faktore gerelegeer wat oorweeg moet word onder die hoofoorweging van die belang van geregtigheid. Een van die sertifiseringsfaktore is dat daar ’n eisoorsaak moet bestaan wat ’n beregbare kwessie openbaar. Appèlregter Wallis het bevind dat die toets wat van toepassing is om te bepaal of ’n pleitstuk eksipiabel is, gebruik moet word om te bepaal of daar wel so ’n eisoorsaak teenwoordig is.

Die doel met hierdie artikel is om die benadering van die Suid-Afrikaanse hoër howe te evalueer om te bepaal of daar in die betrokke sertifiseringsaangeleenthede aan die bostaande faktor voldoen is en om sekere voorstelle te maak aangaande die manier waarop ons howe in die toekoms verkieslik met hierdie kwessie moet omgaan. Die uitspraak van r Unterhalter in De Bruyn v Steinhoff International Holdings NV (2022 1 SA 442 (GJ)) vorm die grondslag van die artikel. Die benadering van die prominente buitelandse jurisdiksie van Ontario in Kanada word ook in die artikel oorweeg.

Uiteindelik word in die artikel geargumenteer ten gunste van die handhawing van ’n minder streng benadering om te bepaal of ’n eisoorsaak ’n beregbare kwessie openbaar. Eksepsies behoort deur ’n verweerder geopper te word vir oorweging deur die verhoorhof na die groepsgeding van stapel gestuur is. Die sertifiseringshof behoort bloot te bepaal of dit duidelik en voor die hand liggend is dat die eisoorsaak onhoudbaar is. Indien wel, is sertifisering onwaarskynlik omdat dit nie sou sin maak om ’n groepsgeding in sulke omstandighede te sertifiseer nie, ongeag of daar aan die ander sertifiseringsfaktore voldoen is. Maar, waar die houdbaarheid van die eisoorsaak onduidelik is, behoort dié faktor ten gunste van sertifisering te werk, met die verhoorhof wat later kan bepaal of die eisoorsaak eksipiabel is.