The apportionment of legal costs in South Africa: a comparative analysis

Author: T Bekker

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Associate Professor in Procedural Law, University of Pretoria
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2022, p. 457-476
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i3a3

Abstract

Een van die grootste hindernisse wat toegang tot die reg in siviele sake, soos gewaarborg in artikel 34 van die Suid-Afrikaanse grondwet, belemmer, is die toekenning van astronomiese regskoste aan die einde van ’n regsgeding. Daar is twee fundamentele reëls wat van toepassing is wanneer ’n hof ’n kostebevel toestaan aan die einde van regsverrigtinge in Suid-Afrika. Die eerste basiese reël bepaal dat die toekenning van regskoste in die diskresie van die hof is. Die tweede algemene reël bepaal dat koste die uitkoms volg, met ander woorde, koste word toegeken aan die suksesvolle party (die sogenaamde Engelse model). Daar kan slegs van hierdie algemene reël afgewyk word waar daar goeie gronde of spesiale omstandighede teenwoordig is wat die toekenning van ’n alternatiewe kostebevel regverdig. Hierdie wye diskresie gee egter aanleiding tot sekere problematiese aspekte in gevalle waar beide partye ’n sekere mate van sukses behaal. In hierdie artikel word die reël dat koste in die algemeen die uitkoms volg in die afwesigheid van spesiale omstandighede, krities bespreek. Daar word aangevoer dat, alhoewel die toekenning van koste in die algehele diskresie van die voorsittende beampte is, die algemene reël dat koste die uitkoms volg, in die meeste gevalle slaafs nagevolg word, selfs waar daar ’n werklike dispuut tussen die partye bestaan. Daar word aangetoon dat daar verskillende benaderings deur ons howe gevolg word by die toekenning van kostebevele wat regsonsekerheid tot gevolg het en wat dit moeilik maak vir ’n party om te besluit of dit die moeite werd is om regsverrigtinge in te stel of te verdedig. Daar word derhalwe aanbeveel dat die algemene reël behou moet word, maar dat die howe se diskresie vernou moet word en dat sekere voorafbepaalde faktore in aanmerking geneem moet word by die toekenning van ’n kostebevel, wat billik is teenoor al die partye. Die algemene reël behoort ook gewysig te word om voorsiening te maak vir die verdeling van regskoste waar beide partye ’n mate van sukses behaal het tydens die verhoor. Die regsposisie in België, Duitsland, Nederland en Engeland en Wallis word krities bespreek en daar word aanbeveel dat sekere bepalings van hierdie buitelandse regstelsels met vrug in Suid-Afrika geïmplementeer kan word.