Regspraak: What it means to be a parent: implications for family law and the law of intestate succession

Authors: MJ De Waal and L Mills

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 562-571
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a8

Abstract

Die Gautengse afdeling van die hooggeregshof (Pretoria) het in Wilsnach NO v M beslis dat die natuurlike vader van ’n kind wat intestaat gesterf het nie as die “ouer” van die kind gekwalifiseer het vir doeleindes van die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 nie. Die kind se ouma aan moederskant het volgens die hof egter wel gekwalifiseer om as “ouer” en daarom as die kind se intestate erfgenaam erken te word. Die hof het tot hierdie slotsom gekom nadat ’n kinderhof die ouerlike verantwoordelikhede en regte van die natuurlike vader beëindig het en ouerlike verantwoordelikhede en regte aan die kind se ouma toegeken het. Die hof was van mening dat die betekenis van die woord “ouer” in die Wet op Intestate Erfopvolging nie slegs op ’n biologiese band dui nie en dat die natuurlike vader nie voldoen het aan die definisie van wat as ’n ouer beskou behoort te word nie. Faktore wat in hierdie verband ’n rol gespeel het, was dat die vader onder andere nooit vir die kind gesorg, hom onderhou, as sy voog opgetree, hom teen mishandeling beskerm of hom begelei het om sy volle potensiaal te bereik nie. Die erkenning van die vader as ouer en dus as intestate erfgenaam sou volgens die hof teen die beste belange van die kind ingedruis het. Die ouma, wat wél bogenoemde ouerlike funksies vervul het, kon egter wel as ouer erken word en sy kon dus saam met die kind se natuurlike moeder intestaat van haar kleinseun erf. In hierdie bydrae word aan die hand gedoen dat, alhoewel hierdie beslissing moontlik sommige se sin vir billikheid mag bevredig, die hof nie korrek was in die wyse waarop hierdie resultaat bereik is nie. Daar word op enkele fundamentele verskille gewys tussen die hof se hantering van die probleem in die Wilsnach-saak en dié van die howe in hul vroeëre herinterpretasie van die begrip “eggenoot” in die Wet op Intestate Erfopvolging. Ook is die hof se toepassing van die beginsel van die beste belange van die kind en sy invoering van die Kinderwet 38 van 2005 se definisie van “ouer” in hierdie konteks omstrede. Wat die bereiking van ’n billike resultaat betref, word op enkele alternatiewe gewys wat die hof sou kon oorweeg het. Regshervorming rondom hierdie kwessie – in soverre dit wel nodig is – behoort eerder op ’n deurdagte en gestruktureerde wyse te geskied.