Aantekeninge: Third-party appointments – may the tax collector please comply?

Author: T Legwaila

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 136 – 144
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a8

Abstract

Ten einde die effektiewe invordering van belasting te bewerkstelling, stel die Wet op Belastingadministrasie 28 van 2011 die kommissaris van die Suid-Afrikaanse inkomstediens in staat om derdepartyaanstellings te maak. So ’n aanstelling bring mee dat ’n persoon geld wat die persoon hou namens die belastingbetaler, skuld of sal hou of sal skuld, moet oorbetaal aan die inkomstediens om die belastingbetaler se uitstaande belastingskuld te delg. In 2015 is die wet gewysig met die insluiting van nuwe vereistes waaraan voldoen moet word alvorens die belastinggaarder so ’n derdepartyaanstelling kan maak. Die inkomstediens mag slegs so ’n aanstelling maak as daar ’n uitstaande belastingskuld is en die inkomstediens ’n finale aanmaning aan die belastingbetaler gerig het ten minste tien besigheidsdae voor die derdepartyaanstelling. Hierdie aanmaningskrywe moet die verhalingstappe wat die inkomstediens tot sy beskikking het indien die belastingbetaler nie betaal nie asook die skuldverligtingsmeganismes kragtens die wet uiteensit. Indien die inkomstediens nie aan hierdie vereistes voldoen nie is die derdepartyaanstelling nietig. In ten minste twee gevalle in 2020 het die inkomstediens derdepartyaanstellings gedoen sonder dat daar voldoen is aan hierdie addisionele vereistes. In die twee sake, wat in die Gautengse hooggeregshof beslis is, het die derdepartye op grond van die derdepartyaanstellings opgetree, wat duidelik tot nadeel van die belastingbetalers was. Dit is kommerwekkend dat die derdepartyaanstelling in die tweede saak gemaak is nadat die eerste saak reeds beslis is. Ten spyte daarvan dat die gebreke in die tweede saak ooreenstem met die gebreke in die eerste saak, het die inkomstediens gemeen dat dit steeds die tweede saak kon wen. In beide sake het die inkomstediens se verteenwoordigers nie die waarheid vermeld oor of die lewering van die finale aanmaningskrywes na die posadresse van die belastingbetalers gestuur is nie. Verder kon die deponente, wat namens die inkomstediens eedsverklarings afgelê het, nie verklaar dat hul persoonlike kennis gehad het of die skrywes gelewer is by wyse van e-filing nie. Daar was ook geen eedsverklarings aangeheg by die beantwoordende eedsverklaring van enige amptenaar van die inkomstediens wat persoonlike kennis gedra het van lewering by wyse van e-filing nie. Die hof het in beide sake kostebevele teen die inkomstediens gemaak. Die outeur meen dat die hof die contra fiscumreël verkeerd toegepas het aangesien daar geen dubbelsinnigheid was in die uitlê van die relevante statutêre bepalings nie.