Aantekeninge: The legal nature and implications of the conversion of convertible securities

Author: KE Van der Linde

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2022, p. 514-527
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i3a6

Abstract

Maatskappye geniet aansienlike vryheid ten opsigte van die regte wat aan verskillende klasse aandele toegewys word. Benewens tipiese klasonderskeidings gebaseer op stemreg, aanspraak op dividende en die reg om by ontbinding in die maatskappy se netto bates te deel, kan die eienskappe van aflosbaarheid en omskepbaarheid verdere variasie in die aandeelstruktuur skep. Hierdie bydrae fokus op omskepbare aandele en ander omskepbare sekuriteite soos omskepbare skuldbriewe. Omskepbaarheid dui op die kenmerk dat een sekuriteit mettertyd omskep kan word in ’n ander sekuriteit, hetsy ter keuse van die maatskappy, die aandeelhouer, of by die plaasvind van ’n gespesifiseerde gebeurtenis. Die Maatskappywet 71 van 2008 bied weinig leiding oor die regsaard van omskepping en standaardkommentare ontleed nie die stappe betrokke by die omskepping van omskepbare sekuriteite nie. Die standaardwerk oor maatskappy-sekretariële praktyk bied verduidelikings wat nie oral strook met die wet en regulasies nie. Sorgvuldige ontleding van die verspreide bepalings wat wel na omskepbare sekuriteite verwys is dus noodsaaklik. Hierdie bepalings handel spesifiek oor gevalle waar die omskepbare instrument in ’n aandeel omskep kan word. Die wet bevat verskeie aanduidings dat omskepping nie ’n magiese transformasie is waar die bronsekuriteit plotseling die doelsekuriteit word nie, maar dat ’n nuwe sekuriteit ter vervanging van die oue uitgereik word. Dit blyk duidelik uit artikel 42(3)(b) wat bepaal dat die direksiebesluit om sekuriteite wat in aandele omskepbaar is uit te reik, terselfdertyd die besluit is om doelaandele uit te reik waarin dit omskep mag word. Soortgelyke aanduidings verskyn in artikel 40(1)(b) wat verwys na die uitreik van aandele ingevolge omskeppingsregte wat aan voorheen uitgereikte sekuriteite kleef en in artikel 41(4)(a)(ii) wat by die berekening van ’n persentasie in artikel 41(3) verwys na die stemreg van aandele wat uitgereik staan te word in ’n omskepping. Hierdie konstruksie strook ook met die noterings- vereistes van die JSE Bpk. Die vraag ontstaan dan op welke wyse van die bronsekuriteit ontslae geraak word en wat presies die reëls rondom die uitreiking van die doelaandele is. Die outeur argumenteer dat die bronsekuriteite slegs onttrek word as uitgereikte aandele maar dat hul steeds deel van die maatskappy se gemagtigde aandele bly en dat wysiging van die akte van inlywing dus nie nodig is nie. Wat uitreiking van die doelaandele betref voorsien die wet dat enige aandele wat moontlik mettertyd as doelaandele uitgereik sal moet word, reeds deel van die gemagtigde aandele moet uitmaak wanneer die bronsekuriteite uitgereik word. Dit dien ter beskerming van die houer van die omskepbare instrument. In die gewone gang van sake vind uitreiking van die doelaandele dus plaas sonder om die maatskappy se gemagtigde kapitaal te raak en word die transaksie bloot in die sekuriteiteregister gereflekteer waar die uitgereikte aandele van die doelklas verhoog word. Daar is egter wel oorgangsprobleme weens die feit dat die 1973-Maatskappywet die uitreiking van omskepbare instrumente, die uiteensetting van gemagtigde aandele, asook die beskikbaarheid van pariwaarde-aandele anders hanteer as die huidige wet. Dit is jammer dat die omskeppingsregte van voorafbestaande omskepbare instrumente nie voldoende deur die oorgangsmaatreëls beskerm word nie.