Aantekeninge: The competition principle as criterion for ascertaining wrongfulness in the competitive struggle

Author: J Neethling

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of the Free State
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2022, p. 527-536
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i3a7

Abstract

Hierdie bydrae verken die lotgevalle van die mededingingsbeginsel in die Suid-Afrikaanse reg. Dit is gevestigde reg dat die algemene kriterium vir die bepaling van deliktuele onregmatigheid in ons reg die boni mores (regsoortuiging van die gemeenskap) of redelikheidsmaatstaf is. Dit geld ook vir onregmatigheid in die mededingingstryd. Nietemin, in die Masstores-saak het die konstitusionele hof in die voetspore van Van Heerden en Neethling Unlawful Competition (2008) 128-133, aangevoer dat hierdie kriterium só vaag is dat dit op sigself nie ’n rasionele maatstaf vir die bepaling van onregmatigheid vir alle konflikte tussen mededingers bied nie. Konkretisering van die boni moresmaatstaf is dus noodsaaklik en dit kan gevind word in die sogenaamde mededingingsbeginsel wat die breinkind van Van Heerden (later ’n appèlregter én die waarnemende hoofregter) in sy proefskif was. Dié beginsel hou in dat die mededinger wat die beste en/of billikste prestasie lewer, die oorwinning in die mededingingstryd moet behaal; die een wat die swakste prestasie bied, moet die onderspit delf. Prestasiemededinging moet dus die deurslag gee by die vraag na die onregmatigheid al dan nie van die optrede van een mededinger teenoor ’n ander. Handelinge wat nie op die meriete van die prestasie van die dader berus nie, word dienooreenkomstig in beginsel as onregmatig beoordeel. Die mededingingsbeginsel is uitdruklik erken en toegepas in ’n aantal beslissings van die hooggeregshof, en onlangs ook deur die hoogste hof van appèl in die Beverage-saak. Baie belangrik is dat hierdie ontwikkeling insgelyks deur die konstitusionele hof in die Masstores-saak bevestig is. So gesien, is daar geen rede waarom hierdie beginsel in die toekoms nie met goeie gevolg in alle gevalle van mededingingskonflik aangewend kan word nie. Dit geld veral vir nuwe gevalle wat nie onder die erkende verskyningsvorme van onregmatige mededinging tuisgebring kan word nie. Nietemin is die howe (byvoorbeeld die hoogste hof van appèl in die Quad Africa- en Cochrane Steel Products-sake) erg gekant teen die erkenning van nuwe vorme, soos aanleuning, wat nie binne die toepassingsgebied van ’n erkende vorm, soos aanklamping, pas nie, selfs waar betrokke gedrag sonder twyfel contra bonos mores en in stryd met die mededingingsbeginsel is. Die hoop word uitgespreek dat die regspraak in die toekoms van hierdie benadering sal afsien en, soos die konstitusionele hof in die Laugh it Off CC-saak ten aansien van aanleuning, nuwe mededingingsgedrag wat strydig met die mededingingsbeginsel is, eweneens as onregmatige mededinging sal beoordeel.