The use of geospatial surveillance data for public-health emergency and disaster management in
South Africa: a review with legal recommendations

Author: M Botes

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Researcher, APACHE Health Law and Bioethics, University of KwaZulu-Natal
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 474-503
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a4

Abstract

Om behoorlik ingeligte en oorwoë pandemie-reaksie en bestuursplanne in werking te stel, wend state, insluitend Suid-Afrika, hul tot georuimtelike inligtingstelsels en ander georuimtelike waarnemingsmetodes. Die data wat deur hierdie tegnologie versamel word, verskaf belangrike insigte in die dinamiese aard van die Covid-19-pandemie, die siekte se verspreidingspatrone en kon selfs uitbraakpatrone voorspel. Deur die patrone en aard van die ontwikkelende pandemie deur middel van georuimtelike waarneming en inligtingstelsels te verstaan, kon regerings betyds die nodige voorbereidings tref ten einde te verseker dat voldoende mediese toerusting aangekoop en beskikbaar gestel word, menslike hulpbronne dienooreenkomstig bestuur word en kwarantyn- en grendelmaatreëls wat lewens kan red in plek gestel word ten einde die verspreiding van hierdie aansteeklike siekte te beperk. Alhoewel georuimtelike waarneming en inligtingstelsels ’n belangrike rol speel deur data vanuit verskillende bronne te versamel, die visualisering van pandemie-inligting moontlik te maak, positiewe gevalle op te spoor en streekuitbrake te voorspel, is die regulering van hierdie tegnologieë gefragmenteerd, soms teenstrydig met nasionale wetgewing, en stem baie min lande se nasionale data en privaatheidswetgewing ooreen met internasionale reguleringsinstrumente. Gedagtig daaraan dat georuimtelike waarneming en inligtingstelsels slegs hulle volle potensiaal sal bereik wanneer die inligting wat deur hierdie tegnologieë versamel word, saamgevoeg en as groot data in geheel geanaliseer en toegepas word, is dit belangrik dat lande se nasionale wetgewing en beleide grotendeels ooreenstem met internasionale instrumente sodat data veilig gedeel kan word. Hierdie harmonisering van nasionale en internasionale reguleringsraamwerke moet steeds geskied met behoorlike beskerming van individuele inligtingsprivaatheid op nasionale vlak. Die Covid-19-pandemie was ’n wekroep tot aksie vir die etiese gebruik van georuimtelike tegnologieë. In hierdie artikel word die verskillende praktiese toepassings van bestaande geografiese waarnemingstegnologieë tydens die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika ondersoek, en hoe hierdie ruimte-tegnologieë en die data wat daaruit voortspruit, op internasionale en nasionale vlak gereguleer word. Gedagtig aan die waarde wat hierdie tegnologieë kan bydra tot die voorspelling, en bestuur van natuurrampe en gesondheidsrampe, word die artikel afgesluit met ’n paar aanbevelings vir toekomstige regulering om die gebruik van hierdie tegnologieë te optimaliseer deur internasionale harmonisering, samewerking en die verbetering van nasionale vaardighede.