The third branch of the legal profession

Author: Michele Van Eck

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior Lecturer in Private Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2021, p. 256 – 278
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i2a3

Abstract

Die Suid-Afrikaanse regsberoep is tradisioneel opgedeel in twee verskillende takke van die praktyk, naamlik die van prokureurs en van advokate. Elk van hierdie takke fokus op spesifieke praktykareas en benodig unieke vaardighede om die spesifieke deel van die regsberoep suksesvol te kan navigeer. Tog het ’n derde tak van die regsberoep ontstaan uit die behoeftes van moderne kliënte, waarin regspraktisyns in diens geneem word om binne hul kliënte se organisasiestrukture hul eie regsrolle te vervul en regsdienste te lewer. Sulke interne rolle kan vervul word deur regspraktisyns wat nie praktiserend is nie, maar tog ’n mate van regsdienste lewer vir ’n werkgewerskliënt (salaris-regspraktisyns). Die interne rol kan ook vervul word deur individue wat ’n regsgraad het, maar nie toegelaat of geregistreer is as ’n prokureur of advokaat nie, maar wat nogtans in diens geneem is deur ’n werkgewerskliënt om regsdienste te lewer (ongereguleerde salaris-regspraktisyns).

Voor die inwerkingtreding van die Wet op die Regspraktyk 28 van 2014 was die posisie van die derde tak van die regsberoep grotendeels ongereguleerd. Hierdie posisie het verander deurdat die Wet op die Regspraktyk, met die bekendstelling van deel 7 van die gedragskode, die eerste stap geneem het om die regspraktisyns in diens van hul werkgewerskliënte te erken en in beperkte mate te reguleer. Desondanks kan die interne rol uiteraard die professionele onafhanklikheid van die salaris-regspraktisyns en die ongereguleerde salaris-regspraktisyns in gevaar stel.

In hierdie artikel word die verskille en ooreenkomste ondersoek van die regsdienste wat deur al drie die takke van die regsberoep verrig word om vas te stel of die professionele onafhanklikheid van sulke interne rolle binne die derde tak van die regsberoep nadelig kan wees en wat daaraan gedoen kan word. Sodoende word die huidige wetgewende landskap van die Wet op die Regspraktyk ondersoek en tekortkominge uitgelig in verband met die regulering van die derde tak van die regsberoep. Die gevolgtrekking word bereik dat geen gedeelte van die regsberoep aan private organisasies oorgelaat behoort te word om te reguleer soos tans die geval is met die derde tak van die regsberoep nie. Die versuim om alle takke van die regsberoep volledig te reguleer, kan die reputasie en openbare persepsie van die regsberoep nadelig beïnvloed omdat die regsberoep dan slegs gedeeltelik gereguleer word.