The role of freedom of expression in a democratic system (part 2)

Authors Roxan Venter

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Affiliated with the University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2018, p. 308 – 343

Abstract

DIE ROL VAN VRYHEID VAN UITDRUKKING IN ‘N DEMOKRATIESE STELSEL Die belangrikheid van die begrippe "demokrasie" en "vryheid van uitdrukking" vir moderne state kan nie maklik oorbeklemtoon word nie. Daar word egter nie gewoonlik veel aandag aan die verband tussen hierdie begrippe geskenk nie. In die Suid-Afrikaanse konteks is die apartheidsregime in stand gehou deur vryheid van uitdrukking te onderdruk deur middel van ‘n ingewikkelde stel onderdrukkende wette wat die ontwikkeling van demokrasie in Suid-Afrika tot die laat 1990’s uitgestel het. Daar word aangevoer dat die verband tussen die twee begrippe veel wyer en dieper is as wat algemeen aanvaar word. Die bydrae voer dus aan dat die begrippe van demokrasie en van vryheid van uitdrukking in so ‘n mate verweef is dat geen demokrasie sonder vryheid van uitdrukking effektief kan funksioneer nie. Hierdie artikel poog om die teoretiese grondslae van die demokrasie te ondersoek deur verskeie elemente van demokrasie te identifiseer. Hierdie elemente van demokrasie word dan gebruik om te illustreer welke rol vryheid van uitdrukking ten aansien van elk van hierdie elemente van demokrasie binne die onderskeie owerheidsvertakkinge in enkele jurisdiksies speel. Die ondersoek na die rol en toepassing van vryheid van uitdrukking ten aansien van die elemente van demokrasie binne die wetgewende, uitvoerende en regsprekende organe van die tersake jurisdiksies bewys dat die demokrasie van hierdie besondere reg afhanklik is vir sy volgehoue effektiwiteit en bestaan — ‘n feit wat dikwels oor die hoof gesien word. Deel 1 van hierdie bydrae bespreek die elemente van demokrasie, naamlik die grondwetlike element, die substantiewe element, prosedurele element, proses-geor\xc3\xafenteerde element en die etiese en waarde-gebaseerde element. Die rol van hierdie elemente binne die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag in Suid-Afrika, Duitsland, die Verenigde State van Amerika en die Verenigde Koninkryk word hierna ondersoek in die res van deel 1 en in deel 2 om sodoende aan te dui hoe vryheid van uitdrukking die demokratiese elemente in hierdie state bevorder. Die ondersoek lei tot verskeie belangrike gevolgtrekkings aangaande die rol van vryheid van uitdrukking in ‘n demokratiese stelsel, onder andere, dat vryheid van uitdrukking ‘n rol speel binne elke owerheidsvlak van elkeen van die tersake jurisdiksies dat daar ‘n besondere verband tussen die grondwetlike en die etiese en waarde-gebaseerde elemente van demokrasie bestaan, dat daar drie oorkoepelende temas te bespeur is in die drie oorblywende elemente van die demokrasie, naamlik deursigtigheid, samewerking en kommunikasie en openbare deelname, en laastens dat hierdie oorkoepelende temas die skakel tussen die onderskeie demokratiese aktiwiteite binne die onderskeie owerheidsvertakkinge vorm en die manier waarop vryheid van uitdrukking in die praktyk binne elke jurisdiksie toegepas word beklemtoon. Indien samelewings beter begrip vir die verband tussen die demokrasie en vryheid van uitdrukking het, kan dit tot beter beskerming en erkenning van vryheid van uitdrukking (en ander fundamentele regte) lei en sodoende kan die lewenskragtigheid van die demokrasie verbeter word. Daar word dus aangevoer dat dit elke samelewing se plig en verantwoordelikheid is om ag te slaan op die belangrike verband tussen demokrasie en vryheid van uitdrukking en die interafhanklike verhouding te erken en ontwikkel om sodoende nie net stabiliteit binne state te verseker nie, maar ook stabiliteit in die internasionale gemeenskap te bevorder.