The European Account Preservation Order (EAPO): a solution for cross-border seizure of bank accounts in the European Union

Author: K Broeckx & B De Groote

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Judge of the court of appeal Ghent and Professor, Institute for Procedural Law, Faculty of Law, Ghent University, Belgium; Professor, Faculty of Economics, Ghent University, Belgium
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 75 – 105
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a5

Abstract

Op 18 Januarie 2017 het in alle lidstate van die Europese Unie, met uitsondering van die Verenigde Koninkryk en Denemarke, die Europese Bankbeslagverordening in werking getree. Die verordening bied skuldeisers wat beoog om oor te gaan tot invordering van hul skuldvordering in burgerlike en handelsake in situasies met grensoorskrydende karakter, die moontlikheid om ’n Europese bevel tot behoudende of bewarende beslag aan te vra met betrekking tot die bankrekeninge van hul skuldenaars (die sogenaamde European Account Preservation Order ofte wel EAPO). Die EAPO stel ’n skuldeiser in staat om die krediet in enige bankrekening van sy skuldenaar in enige ander Europese lidstaat te blokkeer. Die Europese Bankbeslagverordening verteenwoordig ’n belangrike afwyking van die territorialiteitsbeginsel wat normaalweg toepassing vind. Die beginsel is voorheen as ’n fundamentele en dus kenmerkende beginsel van die eksekusiereg beskou en kom daarop neer dat slegs die nasionale howe bevoeg is om ’n beslagleggingsmaatreël toe te staan ten aansien van krediete wat binne die nasionale grense voorkom en om kennis te neem van en uitspraak te gee oor litigasie wat verband hou met sodanige beslagleggingsbevele binne hul grensgebied. Die beginsel berus op die premis dat tenuitvoerlegging ten nouste verbonde is met die uitoefening van staatsgesag. Die behandeling van ’n aansoek om ’n EAPO verloop eensydig en dus sonder dat die skuldenaar van die aansoek in kennis gestel word. Die eensydige karakter het ten doel om die verrassingseffek te behou en daardeur die kanse vir ’n geslaagde bankbeslag te verbeter. Daar word gebruik gemaak van dieselfde standaardformuliere in alle lidstate. ’n Skuldeiser wat so ’n EAPO wil bekom, moet aantoon dat daar ’n dringende behoefte daartoe bestaan ten einde ’n bewaarhoudingsbevel te bekom en dat by gebrek daaraan ’n reële risiko bestaan dat die latere inning van die skuldvordering onmoontlik gemaak sal word of minstens wesenlik bemoeilik sal word. Die Europese Bankbeslagverordening voer ook die moontlikheid in vir skuldeisers wat beskik oor ’n gepaste titel om ’n versoek tot inligting met betrekking tot die tersake bankrekening te formuleer voordat daarop beslag gelê word. Die verordening voorsien egter ook die verpligting, ofte wel die moontlikheid dat skuldeisers sekerheid moet stel ten einde enige belanghebbendes teen benadeling te vrywaar indien die verordening uitgevoer word. Die Europese Bankbeslagverordening is van belang vir skuldeisers met ’n domisilie, woonplek of setel in die Europese Unie wat vanuit hul lidstaat beslag wil lê op die bankrekeninge van hul skuldenare ongeag die feit dat laasgenoemde se woonplek of bedryfsetel in ’n ander Europese lidstaat is.