The corporate tax structure in South Africa: an overview of alternative design options

Authors: L Tredoux and K Van der Linde

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Senior lecturer, University of South Africa; Professor of Law, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 4, 2021, p. 656-687
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i4a2

Abstract

Belastingwetgewing kan verskillende modelle volg ten opsigte van die verband tussen die heffing van belasting op maatskappy-inkomste en die belastingpligtigheid van aandeelhouers ten opsigte van uitkerings wat hul vanaf ’n maatskappy ontvang. Ten spyte van die afsonderlike bestaan van maatskappy en aandeelhouer, word die twee vlakke van belasting op dieselfde stroom geld algemeen beskou as ekonomiese dubbele belasting wat op een of ander wyse uitgeskakel of verlig moet word. Die interaksie tussen belasting op korporatiewe en aandeelhouersvlak kan met verwysing na drie kernmodelle geklassifiseer word: ’n klassieke stelsel sonder integrasie; volle integrasie; of gedeeltelike integrasie. Daar is ook hibriede stelsels wat nie in hierdie spesifieke kategorieë geplaas kan word nie. Integrasie behels die kombinasie van korporatiewe en aandeelhouersbelasting ten einde een van die twee vlakke van belasting uit te skakel of te verminder. Ekonomiese dubbele belasting kan ook verlig word deur ander meganismes, soos om dividende vry te stel van belasting, aftrekkings of belastingkrediete toe te staan, of deur die verlaging van belastingkoerse op een of albei vlakke. Die keuse van korporatiewe belastingstruktuur beïnvloed die na-belasting opbrengs van aandeelhouers, die belastingaanspreeklikheid van sowel die aandeelhouer as die maatskappy, asook die belastingopbrengs vir die fiskus. Die outeurs demonstreer op vergelykende grondslag die potensiële impak van elke stelsel terwyl as uitgangspunt aangeneem word dat dieselfde bedrag onder elke stelsel aan die aandeelhouer uitgekeer word en dat dieselfde belastingkoerse in elke stelsel geld. Suid-Afrika het deur die jare met verskeie van hierdie modelle en meganismes geëksperimenteer en pas tans ’n hibriede dubbele-koers stelsel met ’n terughoubelasting op dividende toe. Hoewel dit dubbele belasting nie heeltemal uitskakel nie, bied dit ’n mate van verligting aan aandeelhouers. Interessant genoeg het verskeie ander lande ook tussen verskillende modelle beweeg en is daar weinig konvergensie te bespeur. Die ontwerp van ’n geskikte korporatiewe belastingstruktuur vir Suid- Afrika hang af van die regering se beleidsdoelstellings. Terselfdertyd moet daar by die oplegging van belasting gestreef word na deursigtigheid en voldoening aan die normatiewe vereistes van billikheid, doeltreffendheid en eenvoud. Wat betref die praktiese voorbeelde wat in hierdie artikel uiteengesit word, word die maksimum na-belaste inkomste vir aandeelhouers gerealiseer deur die implementering van ’n imputasiestelsel, dividendvrystelling of ’n kredietstelsel vir aandeelhouers. Daarenteen is die gunstigste stelsel vanuit die oogpunt van ’n maatskappy ’n dividendaftrekkingsmodel, terwyl die hoogste inkomste vir die fiskus ingevorder word volgens die klassieke stelsel. In hierdie voorbeelde bewerkstellig ’n terughoubelasting op dividende ’n gesonde balans aangesien die toepassing daarvan ’n bogemiddelde opbrengs vir aandeelhouers en ’n na-belaste inkomste vir die maatskappy laat wat goed vergelyk met aandeelhouervlak-verligtingstelsels. Dit waarborg ook ’n billike inkomste-vordering vir die fiskus. Aangesien Suid-Afrika bykomende belastinginkomste nodig het om sy uitgawes te dek, armoede te verlig en gelykheid in die belastingstelsel te verbeter, blyk dit dat sy dubbele-koers stelsel tesame met die heffing van ’n terughoubelasting op dividende goed opweeg teen onlangse hervormingsvoorstelle van vooraanstaande geleerdes op die internasionale front.