Should South Africa adopt fair use? Cutting through the rhetoric

Author: S Karjiker

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Anton Mostert Chair of Intellectual Property Law, Professor in the Department of Mercantile Law, Stellenbosch University
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2021, p. 240 – 255
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i2a2

Abstract

Die wetgewer poog om met die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg ingrypende veranderinge in die Wet op Outeursreg aan te bring, waarby die instelling van billike gebruik (“fair use”) ingesluit word. Hierdie voorgestelde wysiging blyk nie die resultaat te wees van enige erkende hersieningsproses nie, en vereis ’n deeglike ontleding van die gevolge daarvan. Hierdie radikale afwyking van ons huidige benadering ten opsigte van die uitsonderings in outeursreg is deur sommige bekende tegnologie maatskappye ondersteun, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in ander regsgebiede soos die Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland. Die artikel spreek ernstige kommer uit oor die implikasies van die instelling van billike gebruik in die Suid-Afrikaanse reg. Sodra verby die retoriek van die beweerde meerderwaardigheid van billike gebruik beweeg word, is die prentjie wat ontstaan verontrustend. Alhoewel daar entoesiastiese ondersteuning blyk te wees vir die instelling van billike gebruik vanuit sekere oorde, is die geskiedenis daarvan om regsekerheid te vestig in die regsgebied van sy statutêre oorsprong, die Verenigde State, minder bemoedigend. Billike gebruik vereis ’n litigasieproses tussen die verskillende partye om die toelaatbare uitsonderings op outeursreg te bepaal. Daar is geen noodwendige rede waarom billike gebruik meer responsief is op tegnologiese verandering as wetgewende hervorming nie.

Daar is beduidende verskille in ons regstelsel en die litigasieproses wanneer dit vergelyk word met dié van die Verenigde State. Versuim om die verskille te erken, kan tot onvoorspelbare en onbedoelde gevolge lei. Uitsonderings op die outeursreg behels aspekte van openbare beleid. Dit moet nie deur regters beslis word ooreenkomstig ’n agenda wat daargestel is deur private litigante nie. In ’n demokratiese samelewing moet openbare beleidskwessies deur die parlement bepaal word en dit mag openbare deelname insluit.

Billike gebruik, of enige vorm van oop uitsonderings, kan daartoe lei dat Suid-Afrika sy verdragsverpligtinge kragtens die Bernkonvensie, die TRIPs-ooreenkoms en in die besonder die sogenaamde “drie-stap-toets” mag oortree. Dit is ook duidelik dat die houding van die Europese Unie en die Verenigde State teenoor die groot tegnologie maatskappye minder uiteenlopend is, en dat wetgewende maatreëls ingestel word, of oorweeg word, om die uitbuiting van die regte van outeursreghebbendes te beperk. Voorstanders vir die instelling van billike gebruik het nog geen regverdiging verskaf waarom Suid-Afrika dit só moet gedra oor sy internasionale verpligtinge nie.