Regspraak: Ethical and professional duties of legal practitioners: another casualty of Covid-19?

Author: Michele Van Eck

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2021, p. 396 – 408
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i2a11

Abstract

Die uitbreek van die coronavirus in 2019 (Covid-19) het baie individue in hul daaglikse lewens geraak. In die nasleep daarvan is wêreldekonomieë verwoes, staatshulpbronne uitgeput en mediese infrastrukture is op die rand van ineenstorting gelaat. Dit is geen wonder dat die regering, toe die Covid-19 infeksie gedurende 2020 vir die eerste keer in Suid-Afrika waargeneem is, vinnig stappe geneem het om die infeksie in te hok sodat lewens gered kon word nie. Dit is gedoen met die verklaring van ’n nasionale ramptoestand onder die Wet op Rampbestuur 57 van 2002 met die implementering van ’n sogenaamde harde inperking in Maart 2020 wat ’n oorvloed van regulasies meegebring het. Dit is nie die bedoeling om die inperkingsregulasies te bespreek nie, maar om die tugmaatreëls van die hof in Administrator of Dr JS Moroka Municipality v Kubheka (2020 3 All SA 96 (ML)) te bespreek. Verskeie regspraktisyns betrokke in daardie saak het blykbaar nie oor geldige permitte beskik wat ingevolge die regulasies vereis is nie. Die hof was krities oor die skynbare oortreding en het ’n afskrif van die uitspraak na die direkteure van die Mpumalanga en Gautengse regsadviesrade verwys. Die hof het ook verskeie van die regspraktisyns verbied om fooie en kostes vir die bywoning van daardie hofaansoek van 31 Maart 2020 te eis. Teen dié agtergrond bespreek die outeur die hof se toesighoudende rol en sy dissiplinêre funksie van die regsberoep, sowel as die wyse waarop die hof en die regsadviesraad wangedrag van regspraktisyns in die algemeen kan aanspreek. Daar word verwys na die verskillende filosofiese modelle wat gebruik kan word in die algemene regulering van die regsberoep, wat die doel van dissiplinêre aksies in die konteks van die beroep beïnvloed asook die tipe dissiplinêre aksies wat gebruik kan word. Die verantwoordelikheid van ’n regspraktisyn om niks te doen wat die regsprofessie in oneer kan bring nie, word beklemtoon. Respek vir die hof, eerlikheid, integriteit, en ook die nakoming van die landswette deur alle regslui is noodsaaklik vir die behoorlike funksionering van die regsberoep.