Regspraak: Delictual liability resulting from the incompetence of artisans and misplaced trust

Author: J Scott

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of South Africa
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2022, p. 551-569
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i3a9

Abstract

Die eiseres, moeder en voog van ’n 11-jarige seun, het skadevergoeding gevorder van ’n persoon (N) wat herstelwerk aan ’n beskadigde elektriese leiding in ’n meenthuis verrig het, die eienaar van die betrokke meenthuis (D) en die beheerliggaam van die deeltitelkompleks (BC). Die eienaar (C) van ’n onderneming wat kombuiskaste installeer, is as derde party tot die geding gevoeg. Een middag, terwyl die seun aan ’n kraan in die kompleks geraak het toe hy sy moeder se motor wou was, is hy ernstig beseer as gevolg van ’n enorme elektriese skok wat hy ontvang het. Dit was te wyte aan die feit dat C se werkers die elektrisiteitsleiding tydens werk in die meenthuis van die eiseres se buurvrou (R) beskadig het toe hulle besig was om kombuiskaste te installeer. Omdat R self daarna ook geskok is toe sy aan krane geraak het, het sy die elektrisiteitstoevoer afgeskakel. C se werkers was daarvan bewus. R het dadelik D se verteenwoordiger (M), wat gewoonlik as skakel tussen haar en D opgetree het, van die gevaartoestand verwittig en hy het onderneem om dadelik vir D daarvan in kennis te stel sodat hy spoedig reëlings vir herstelwerk aan die elektriese leiding kon tref. M het egter versuim om die berig aan D deur te gee. Die volgende oggend het C se werkers die elektrisiteit weer aangeskakel om aan te gaan met hul werk en derhalwe die gevaartoestand laat herleef, wat uiteindelik die tragedie as afloop gehad het. Die hof het tot die volgende beslissings geraak: Wat N (die eerste verweerder) betref, is bevind dat ofskoon sy brouwerk (die feit dat hy die elektriese leiding van die aardlekkasiestelsel ontkoppel het) die grondoorsaak vir die elektrifisering van die kraan was, dit nie vir ’n redelike persoon in sy skoene voorsienbaar sou wees dat die werkers wat van die gevaartoestand bewus was, so onverstandig sou wees om die elektrisiteit weer aan te skakel nie en dat ’n voldoende juridiese kousale verband derhalwe tussen N se handeling en die kind se beserings ontbreek het. Die werkers se handeling is dus as ’n novus actus interveniens beskou. Hierdie beslissing word gekritiseer as strydig met die regspraak betreffende juridiese kousaliteit. In BC (die derde verweerder) se geval was die omstandighede van sodanige aard dat daar nie redelikerwys van BC wat geen kennis van die gevaartoestand gehad het, verwag kon word om voorkomende stappe te doen nie en in hierdie geval is die eiser se vordering verwerp. Met hierdie bevinding word daar akkoord gegaan. Wat D (die tweede verweerder) betref, is bevind dat hy aanspreeklik is vir die eiser se nadeel. Oor die juridiese grondslag waarop die hof sy beslissing gevestig het, bestaan daar onsekerheid. In breë trekke is daar tot ’n bevinding van middellike aanspreeklikheid gekom, maar die hof het gewik en geweeg tussen werkgewersaanspreeklikheid en dié van ’n verteenwoordiger, ofskoon daar ter aanvang duidelik afwysend teenoor laasgenoemde grondslag gestaan is. Die ratio decidendi is in hierdie opsig uitermate verwarrend. Daar word aan die hand gedoen dat D se aanspreeklikheid dié van ’n werkgewer is vir handelinge van sy werknemer in diensbestek gepleeg. Ten einde laaste het die hof die posisie van C (die derde party) onder die loep geneem en hom eerstens as ’n onafhanklike kontrakteur bestempel, kennelik (en tereg) om aan te dui dat D nie ook vir sy optrede, of dié van sy werkers, aanspreeklik is nie. Daarna het die ratio decidendi in ’n staat van verwarring verval waar die hof C se aanspreeklikheid vir die handelinge van sy werkers beoordeel het. Die moontlikheid bestaan dat C enersyds as ’n werkgewer, of andersyds as ’n opdraggewer van ’n onafhanklike aannemer wat as uitsondering aanspreeklik sou kon wees in ooreenstemming met die toonaangewende uitspraak in Langley Fox Building Partnership (Pty) Ltd v De Valence (1991 1 SA 1 (A)) benader sou kon word. In hierdie opsig is daar los en vas verwys na die aanspreeklikheid van ’n onafhanklike aannemer en ’n verteenwoordiger, maar die regspraak waarna ter stawing van laasgenoemde verwys is, het in werklikheid geen steun vir die bevinding van C se aanspreeklikheid verskaf nie. Die hof het ten slotte ’n bevel uitgereik waarin hy C gelas het om D vir 50% van die skadevergoedingsbedrag wat D in die toekoms aan die eiseres sou moet betaal, skadeloos te stel. Ofskoon C kennelik ’n derde party was wat as gedingsparty (nie verweerder nie) ingevolge reël 13(1) van die Eenvormige Hofreëls gevoeg is, het regter Millar geen verwysing hierna gemaak nie en dit is aan die leser oorgelaat om uit te maak wat die aard van die proses ten opsigte van C was. Daarbenewens het die hof, onverklaarbaar, versuim om ’n enkele rede te verskaf vir sy besluit rakende die verdelingsverhouding waarop hy besluit het – ’n uiters ongewone praktyk. Daar word voorgestel dat artikel 2(8) van die Wet op Verdeling van Skadevergoeding 34 van 1956 wat die verhouding tussen die aanspreeklikheidsgrade van mededaders ten grondslag lê, hier toepassing moes vind. Enkele voorbeelde word verskaf van hoe daar tot ’n verdeling geraak kon word met verwysing na South British Insurance Co Ltd v Smit (1962 3 SA 826 (A)) en Jones NO v SANTAM Bpk (1965 2 SA 542 (A)).