Regspraak: Constitution and contract: indirect and direct application of the bill of rights on the same day and the meaning of “in terms of law”

Author: IM Rautenbach

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 2, 2021, p. 379 – 395
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i2a10

Abstract

In Beadica 231 CC v Trustees, Oregon Trust het die konstitusionele hof bevestig dat die handves van regte indirek toegepas moet word op kontraktuele bepalings en die uitvoering daarvan. Volgens die hof is begrippe soos redelikheid, billikheid, goeie trou en grondwetlike waardes nie regsbegrippe nie maar abstrakte waardes wat gebruik word om die regsreël toe te pas dat kontrakte nie teen die openbare beleid mag wees nie. Daarmee wou die hof meningsverskille in die regspraak en -literatuur uit die weg ruim. Dit is onwaarskynlik dat die hof daarin geslaag het. Die werklike meningsverskille gaan oor hoeveel gewig in besondere gevalle geheg moet word aan kontrakteervryheid aan die een kant, en die handvesregte wat deur kontrakte en hulle uitvoer beperk word aan die ander kant. Deur bevindings in uitsprake sorgvuldig te motiveer met verwysing na die faktore in artikel 36(1) van die grondwet sal die standpunte duideliker gestel word en meer sinvolle debatte daaroor gevoer kan word. Dit verg ’n direkte toepassing van die handves van regte.

In AB v Pridwin Preparatory School het die konstitusionele hof beslis dat wanneer die ongeldigheid van optrede ingevolge ’n kontraktuele bepaling op die openbare-beleid-reël gebaseer word, die handves indirek daarop toegepas moet word, terwyl gevalle waarin die applikante hulle saak slegs op die skending van handvesregte baseer, nie-kontraktuele geskille is waarop die handves direk toegepas moet word. Die skending van handvesregte vind egter nooit in ’n lugleegte plaas nie, maar altyd binne die raamwerk van die een of ander regsterrein, in hierdie geval die kontraktereg, en die uitwerking van die uitoefening van die grondwetlike reg op kontrakteervryheid op ander handvesregte moet vasgestel word ongeag of indirekte of direkte toepassing van die handves plaasvind. Daar bestaan nie so iets soos gewone kontraktereg en daarnaas grondwetlike kontraktereg nie. Die hof se direkte toepassing het in elk geval op indirekte toepassing neergekom want die algemene beperkingsbepaling is nie toegepas nie. Die hof se uitleg van “in terms of law” in artikel 36(1), naamlik dat dit slegs geld vir beperkings “in” regsreëls, is die enigste rede wat die hof sedert 1995 aangevoer het waarom die hof die handves nie direk op kontraktuele bepalings en hulle uitvoering toepas nie. Die uitdrukking sluit geen beperking uit nie, maar verorden die formele legaliteitsbeginsel dat alle beperkings uitdruklik of stilswyend deur regsreëls gemagtig moet word. Die hof se benadering veroorsaak verwarring en onsekerheid soos duidelik blyk uit onder andere die verskillende uitsprake in Dladla v City of Johannesburg (2018 2 BCLR 119 (KH), 2018 2 SA 327 (KH)).