Regspraak: Concern about the (seemingly) unlimited discretion to discharge an accused after close of the state’s case

Author: M Watney

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 3, 2021, p. 611-626
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i3a11

Abstract

Die bepalings van artikel 174 van die Strafproseswet 51 van 1977 verleen aan die verhoorhof ’n diskresie om pas na afloop van die staatsaak ’n einde aan die verrigtinge te bring deur ontslag (en dus vryspraak) aan die beskuldigde te verleen. Dié bepaling kan sy ontstaan terugvoer na die bestaan van jurieverhore en die bevoegdheid destyds aan regters verleen om sake aan die jurie te onttrek ten einde te verhoed dat onhoudbare skuldigbevindings deur die jurie volg op geheel gebrekkige getuienis. Die artikel is in gewysigde vorm, maar prinsipieel identies op die Suid-Afrikaanse wetboek behou, selfs ná afskaffing van jurieverhore en die oogmerk is hedendaags om ’n vroeë einde te bring aan ’n strafvervolging wat ooglopend en onherroeplik die spoor byster geraak het.
Die toepaslike toets het mettertyd ontwikkel en aan die hand van grondwetlike beginsels behels dit tans dat die verhoorhof ondersoek instel of daar getuienis beskikbaar is waarop ’n redelike mens die beskuldigde sou kon skuldig bevind. Oor die rol wat die geloofwaardigheid van staatsgetuies op hierdie stadium behoort te vervul, het die beslissings in die hofverslae dit oor die jare van bakboord na stuurboord gestuur. Duidelik egter is dat die huidige benadering gesaghebbend (en so ook in vergelykbare regstelsels) vasgelê is dat geloofwaardigheid alleen ’n rol speel in dáárdie gevalle waar die getuienis só onbetroubaar en ongeloofwaardig swak is dat geen redelike hof daarop peil kan trek nie. Teen hierdie agtergrond was regter-president Hlophe as die senior hooggeregshofregter in die land geroepe om die ontslag van die beskuldigde parlementslid Bongo, wat op ’n hoofaanklag (met gepaste alternatiewe) van oortreding van artikel 4(1)(b) van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede 12 van 2004 tereg gestaan het, te oorweeg. Bongo is daarvan aangekla dat hy ’n geldelike voordeel aangebied het aan ’n parlementêre beampte om as getuienisaanbieder ’n ondersoek na Eskom deur die portefeuljekomitee van openbare ondernemings in die wiele te ry. Verskeie staatsgetuies het getuig ter ondersteuning van die hoofgetuie wat as enkelgetuie die kern van die korrupsiebewerings te berde moes bring.
Ten spyte van geen noemenswaardige weersprekings in die hoofgetuie se getuienis of van die ander getuies onderling nie, bevind die hof die hoofgetuie se getuienis as enkelgetuie op die wesensaspekte van die saak so ongeloofwaardig en die weersprekings tussen getuies só kardinaal dat dit die staatsaak buite hoop stel en die beskuldigde derhalwe op ontslag geregtig is. In verdere opmerkings oor die vertolking van die korrupsiewet slaan die regter-president ’n koers in strydig met onlangse vertolkings van die hoogste hof van appèl oor die juiste bepalings.
Die outeur skenk aandag aan die aangewese weg tot bereddering van die blatante en skynbaar geknutselde mistastings aan die hand van artikel 319 van die Strafproseswet waarvolgens die staat alleen regsvrae aan die hoogste hof van appèl kan voorhou vir beslissing. Die onderskeid tussen regsen feitevrae lewer egter dikwels probleme op en boonop word die bepalings van artikel 319 streng uitgelê deur die howe ten einde appèlle van staatsweë te ontmoedig. By oorweging van die uitspraak identifiseer die outeur twee regsvrae vir sodanige voorbehoud. Vantevore het die regskommissie na behoorlike ondersoek aanbeveel dat die appèlbevoegdheid van die staat uitgebrei word om ook feitevrae in te sluit en in sommige hooggeregshofuitsprake is daardie aanbeveling pertinent ondersteun. Van dié aanbeveling het dadels gekom, maar daar word aanbeveel dat dringend heroorweging daaraan geskenk word ten einde gemeenskapskadelike uitsprake deur regsprekers wat vanweë onkunde óf moedswil hul aan die reg én getuienis nie veel steur nie, op appèl te korrigeer.