Regspraak: Can a conduct rule banning short-term letting for less than six months in a residential sectional title scheme be declared invalid because it constitutes commercial use of the unit, and then be enforced by a final interdict and declared constitutional?

Author: CG Van der Merwe

ISSN: 1996-2207
Affiliations: University of Stellenbosch
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2021, p. 160 – 171
https://doi.org/10.47348/TSAR/2021/i1a10

Abstract

Dit is presies wat gebeur in Body Corporate, Paddock Sectional Title Scheme v Nicholl 2020 2 SA 472 (GJ). Die regspersoon doen aansoek by die hof om die respondent te verbied om haar woonstel in stryd met ’n gedragsreël vir ’n kort termyn te verhuur via Airbnb. Die respondent ontken dat sy haar woonstel vir ’n besigheidsdoel gebruik en veg in ’n teenaansoek die grondwetlikheid van die gedragsreël aan omrede dit haar inhoudsbevoegdhede as eienaar aantas. Die hof bevind dat aangesien die woonstel as ’n belegging gekoop is en die oogmerk met die verhuring die afbetaling van die verbandskuld uit die huurinkomste was, die verhuring neerkom op ’n besigheidsgebruik van die woonstel. En aangesien korttermynverhuring via Airbnb in die algemeen ’n veiligheids- en oorlasrisiko skep, staan die hof ’n finale verbiedende interdik toe. Die hof beslis ten slotte dat die verbod grondwetlik is omdat dit slegs ’n tydsbeperking plaas op die respondent se inhoudsbevoegdhede om as eienaar haar woonstel te verhuur. Myns insiens gaan die verhuring van ’n woonstel vir ’n kort termyn nie oor ’n besigheidsgebruik daarvan nie, omdat die woonstel steeds vir verblyf van die korttermynhuurder benut word. Verder hang die toestaan van ’n finale interdik op grond van ’n oorlas af van daadwerklike oorlasstigtende handelinge van die eienaar en nie bloot oor die potensiaal daarvoor nie. Ten slotte sal die grondwetlikheid van ’n verbod op kort verhuring van eiendom in die lig van die erkenning van korttermynverhuring in die voorgestelde wysiging van die Wet op Toerisme in die toekoms ’n noukeurige afweging van die belange van die betrokke individu en die gemeenskaplike belange van die deeleiendomsgemeenskap én van die algemene publiek as potensiële huurders verg.