Party autonomy: promoting legal certainty and predictability in international commercial contracts through choice of law (the applicable rules of law)

Author: Prince Obiri-Korang

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Postdoctoral Research Fellow, Research Centre for Private International Law in Emerging Countries, University of Johannesburg
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 106-121
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a6

Abstract

In n regstelsel waar partye by internasionale kontrakte die outonomie gelaat word om die reg van toepassing op hulle kontrak te kies, word algemeen verwag dat die reg wat hulle kies die reg van n staat is. Die keuse van enige soort buitestaatlike reg as die reg van toepassing op kommersiële kontrakte word gewoonlik nie deur die howe toegelaat nie. Indien n bepaalde internasionale kontrak n arbitrasieklousule bevat, verskil die posisie. Daar is presedente wat toon dat arbitrasie-tribunale bereid is om regskeuses in internasionale kontrakte te handhaaf en toe te pas, ongeag die aard van die gekose reg, hetsy dit staatlik, of buitestaatlik is. Die vraag wat in hierdie verband ontstaan, is waarom howe arbitrasietoekennings sonder voorbehoud afdwing, selfs wanneer n nie-staatlike reg deur die tribunaal toegepas is om tot die beslissing te kom wat nou afgedwing moet word, maar terselfdertyd die toepassing van dieselfde buitestaatlike reg verwerp in sake wat direk voor hulle kom. In hierdie artikel argumenteer die outeur dat howe die keuse deur die partye van buitestaatlike reg behoort te aanvaar op grond van die beginsel van partyoutonomie. Die outonomiebeginsel speel n rol in alle kommersiële kontrakte. In die internasionale kontraktereg word partyoutonomie vandag beskou as die belangrikste verbindingsfaktor vir die vasstelling van die reg. Die erkenning van die keuse van buitestaatlike reg bied aan partye die geleentheid om toepaslike regsreëls te kies vir die hantering van spesifieke juridiese uitdagings wat verband hou met hul kontrak. Partye sal baat by die gevolglike regsekerheid en voorspelbaarheid wat die reg betref wat van toepassing is op die kontrak. Dit sal sodoende help om lang en duur geskille te voorkom wat bloot handel oor welke reg van toepassing sou wees. Die outeur bespreek welke kategorieë van buitestaatlike reg gekies behoort te kan word om internasionale kontrakte te beheers.